Koronavirus: Kan ek nog die gimnasium besoek?

Argieffoto (Foto: RyanMcGuire, Pixabay)

Werner Botha is ’n man wat daarvan hou om te oefen. Hy besoek nog daagliks die plaaslike gimnasium in Amanzimtoti en hoewel hy nie skroom om die ysters met mening te buig nie, is hy weens Covid-19 baie versigtiger as vantevore.

“Ek was my hande en vee my sweet op wanneer ek klaar geoefen het. Verder probeer ek maar kuggende en swetende besoekers te vermy. Wanneer ek so ʼn persoon by die borsmasjiene sien, gaan oefen ek eerder bene, ” het hy laggend aan Maroela Media gesê.

Tog neem eienaars en dokters die higiëne-kwessie in gimnasiums baie ernstig op. Hoewel die fiksword-plekke nog nie vir die publiek gesluit is nie, is hul higiëne-maatreëls aansienlik opgeskerp sedert president Cyril Ramaphosa die afgelope Sondag sy presidensiële maatreëls bekendgestel het.

In ’n onderhoud met Sky News het dr. Jenna Macciochi, ’n immunoloog, gesê dat besoekers ekstra versigtig by die gimnasium moet wees, juis omdat baie mense toerusting deel.

In dieselfde artikel het dr. Norman Swann gesê dat die humiditeit en vogtigheid in gimnasiums die perfekte teelaarde vir kieme kan wees.

“Dit beteken egter nie dat jy die gimnasium moet vermy nie, jy moet net ekstra op jou hoede wees wanneer jy dit besoek,” het hy gesê.

Hul sienings word deur dr. Nadine Jooste, ’n plaaslike geneesheer, ondersteun.

Was jou hande gereeld. Argieffoto.

“Doeltreffende sanitasie is bitter belangrik en jy moet asseblief nie aan jou gesig vat terwyl jy oefen nie. Wanneer jy siekerig voel, bly eerder tuis; trouens dit sal beter wees as jy by die huis kan oefen totdat medici meer sekerheid het oor die Covid-19-situasie,” het sy aan Maroela Media gesê.

Maar gimnasiums dwarsoor die land doen hul uiterste bes om hul lede teen die virus te beskerm.

By alle Planet Fitness-gimnasiums moet besoekers nou twee handdoeke saambring: een om die sweetdruppels van jou gesig af te vee en die ander een om jou toerusting ná jy geoefen het skoon te maak. Dan is die dra van handskoene ook ’n vereiste.

“Al ons klubs sal oop bly en ons het verskeie maatreëls ingestel om ons lede te beskerm. ’n Gesonde nasie en immuniteitstelsel is baie belangrik; dit beteken egter dat jy fiks moet bly, gereeld moet oefen en gesond moet eet om jou immuniteitstelsel ’n hupstoot te gee,” het Planet Fitness in ’n omsendbrief aan hul lede gesê.

Handreinigingsmiddels is beskikbaar en die toerusting word gereeld skoon gemaak.

Virgin Active SA bring ook hul kant om die virus te beveg.

Handreinigingsmiddel is volop en hulle maak hul toerusting met chemikalieë soortgelyk aan dié wat in hospitale gebruik word, skoon. Hulle gaan ook ’n paar aanlyn oefenprogramme beskikbaar stel vir lede wat besluit om tuis te bly, terwyl groepklasse se bywoningsgetalle met die helfte gesny sal word.

“Ons moet dit beklemtoon dat die virus versprei word wanneer ’n persoon hoes of nies; en nie deur sweet of swembadwater nie. Die nodige hulpmiddels word voorsien om die toerusting ná gebruik skoon te maak. Dit is noodsaaklik dat alle lede hul verantwoordelikheid met albei hande moet aangryp om die verspreiding van die virus te keer,” het Virgin Active SA op hul Facebook-blad geskryf.

(Foto: Jacob Postumay/Unsplash)

Die plaaslike CrossFit-gemeenskap maak ook planne om die virus te bekamp.

Buiten die opgeskerpte higiëne-maatreëls word daar by CrossFit Middelburg ook gereeld inligting aan die lede deurgestuur.

“Ons kommunikeer alle raad en toepaslike inligting aan ons lede so spoedig as moontlik. Die belangrikste is dat die lede self moet besluit of hulle wil oefen of nie,” het die box se Francois Naudé gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Suzette ·

Ek sou nie… word die apparate, gewigte, matte, rekke ens. na elke gebruik ontsmet? Dink nie so nie.

DD ·

Noem my maar iemand met volstruismentaliteit, maar tans is die aangetekende gevalle in SA 1 uit elke 1 miljoen inwoners. Ek is nie ook nie onverskillig nie, maar regtig almal is nou op ‘n hype. Ek gaan verseker nie op die oomblik ophou lewe en in vrees sit vir elke moontlike virus wat my kan bekruip nie.

Jaco ·

Beste DD, dit is wel die gevalle waarvan ons weet…Suid Afrika het nou maar n paar duisend mense in totaal getoets vir die virus, waar bv in Suid Korea hul derduisende mense daagliks getoets word, omrede ons “lae getalle”..ek glo daar is baie meer wat dit reeds het. Ek glo ook mense moet meer waaksaam wees om te help om die kurwe te laat uitplat as wat almal tegelyk siek word en ons gesondheidstelsel knak onder gelyke druk.

Wonder net ·

Ek dink jy kan nog steeds op sekere maniere ‘n mate van Fiksheid by die huis volhou. Gaan stap om die blok en vat sommer die kids saam op hulle fietse. Of gaan ry as ‘n gesin ‘n draai met ‘n fiets.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.