Kyk: Fratsongeluk stuit Rafa nie in sy spore

’n Fratsongeluk het Rafael Nadal nie in sy spore gestuit nie. Foto: Matthew Stockman/Getty Images/AFP

Onderkry is min vir Rafael Nadal. Ondanks ’n fratsongeluk in die vierde stel van sy wedstryd teen Fabio Fognini in New York het hy steeds die wedstryd met 2-6, 6-4, 6-2 en 6-1 beklink.

Die 36-jarige Spanjaard, wat poog om die 23ste Grand Slam-titel van sy roemryke loopbaan in te oes, was op koers na ’n gemaklike oorwinning toe die noodlot (tydelik) ingegryp het.

Hy het sy arm uitgestrek om ’n wye rughandhou te speel. Nadat hy kontak met die bal gemaak het, het sy raket van die baan teruggehop en hom vierkant op die neus getref.

Hy het onmiddellik in die rigting van sy stoel gestap en op die grond gaan lê. ’n Kort rukkie later het ’n mediese beampte hom reggedokter en het hy voortgegaan om vir die volgende ronde van die Amerikaanse Ope te kwalifiseer.

“Ek het gedink my neus is gebreek, maar dit was net die aanvanklike skok en ek was effens lighoofdig. Eintlik weet ek steeds nie of dit gebreek is of nie; dit word net al groter!” het Nadal na afloop van die wedstryd gesê.

Die Amerikaanse Ope het egter later ’n foto op sosiale media van ’n glimlaggende Nadal met ’n pleister op sy neus gedeel.

“Alles is oukei,” was die meegaande boodskap.

Hy het later ook erken dat hy bekommerd is oor sy vrou, Mery Perello, wat binnekort geboorte aan hul eerste kind sal skenk.

“Dit gaan goed met my vrou, maar hierdie dinge voel altyd effens erger wanneer ’n mens weg van die huis is.”

Net soos in sy eersterondtewedstryd teen Australië se Rinky Hijikata het hy nou weer eens die eerste stel van die wedstryd prysgegee.

“Ek lyk tans baie beter op die oefenbaan as in ’n wedstrydsituasie. Dit is seker nie ’n slegte ding nie, maar dit is tyd dat ek met soortgelyke selfvertroue in wedstryde speel. Tog het ek nou baie beter as in die eerste rondte gespeel.”

Nadal is weer môre in die volgende rondte teen Frankryk se Richard Gasquet in aksie.

Uitslae:

Rafael Nadal klop Fabio Fognini met 2-6, 6-4, 6-2 en 6-1

Frances Tiafoe klop Jason Kubler met 7-6, 7-5 en 7-6

Ilya Ivashka klop Hubert Hurkacz met 6-4, 4-6, 7-6 en 6-3

Denis Shapovalov klop Roberto Carballés met 6-4, 4-6, 6-3 en 6-2

Richard Gasquet klop Miomir Kecmanovic met 6-2, 6-4, 4-6 en 6-4

Diego Schwartzman klop Alexei Popyrin met 7-6, 7-5 en 7-6

Brandon Nakashima klop Grigor Dimitrov met 7-6, 7-5 en 6-3

Andrey Rublev klop Kwon Soon-woo met 6-3, 6-0 en 6-4

Cameron Norrie klop Joao Sousa met 6-6, 6-4 en 7-6

Carlos Alcaraz klop Federico Coria met 6-2, 6-1 en 7-5

Aryna Sabalenka klop Kaia Kanepi met 2-6, 7-6 en 6-4

Garbine Muguruza klop Linda Fruhvirtova met 6-0 en 6-4.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.