Leclerc nie té bekommerd oor Sainz se toekoms

Ferrari se Charles Leclerc en Carlos Sainz. (Foto: Martin Keep/AFP)

Daar hang weliswaar ʼn wolk van onsekerheid oor sy F1-toekoms, maar Carlos Sainz is tans die bestendigheid vanself in sy rooi Ferrari.

Sy derde plek in Bahrein is ʼn paar weke later deur ʼn geruitevlagoomblik in Australië opgevolg waar hy met sy bestuursvernuf beïndruk het. Goeiste, as hy fiks en gesond was om in Saoedi-Arabië te jaag, is dit seker nie te vergesog om te sê dat hy die huidige voorloper op die jaerspunteleer kon wees nie.

Ferrari-spanmaat Charles Leclerc het intussen erken dat ʼn paar spanbase in die Spaanse renjaer se dienste vir 2025 belangstel.

“Ek dink almal besef Carlos se waarde as renjaer en hy lewer altyd ʼn stewige vertoning agter die stuur van sy motor. Ek het al telkemale vantevore genoem dat ek nie té bekommerd oor sy toekoms is nie. Hy sê dit dalk nie self nie, maar ek is daarvan oortuig dat spanbase al met hom gesels het,” het die Monte Carlo-boorling gesê.

By Red Bull verval Sergio Perez se kontrak teen die einde van die jaar en Christian Horner het intussen genoem dat dit nie ʼn groot uitdaging behoort te wees om ʼn spanmaat vir Max Verstappen te vind nie.

“Ons wil die beste renpaar inspan wat ons kan by Red Bull en soms moet ʼn mens ook na opsies buite die gewone groep kyk,” het die Red Bull-spanhoof gesê.

“ʼn Blitsige werklose renjaer het in Melbourne gewen en as ʼn mens na sy vertoning kyk, kan jy dit nie eintlik bekostig om enige moontlikheid uit te sluit nie.”

Die volgende wedren word op 7 April in Japan beslis.

Jaerspunteleer:

  1. Max Verstappen: 51 punte
  2. Charles Leclerc: 47 punte
  3. Sergio Perez: 46 punte
  4. Carlos Sainz: 40 punte
  5. Oscar Piastri: 28 punte
  6. Lando Norris: 27 punte
  7. George Russell: 18 punte
  8. Fernando Alonso: 16 punte
  9. Lance Stroll: 9 punte
  10. Lewis Hamilton: 8 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ian ·

Die voorste paar renjaers op die punteleer is werklik uitsonderlike atlete en ‘n puik voorbeeld vir die jonger geslag. Ek is bly vir Carlos Sainz se part. Hy vryf behoorlik sout in die wonde van Ferrari wat maar steeds aanhou om die verkeerde besluite te neem deur ‘n ou renjaar wat nie meer op vorm is in sy plek te sit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.