Lewis sê hy sal nie hensop

Lewis Hamilton. Foto: Karim Sahib/AFP.

Lewis Hamilton was meer as 50 sekondes stadiger as Max Verstappen in Bahrein, terwyl sy Mercedes-spanmaat George Russell meen dat Red Bull oor die vermoë beskik om elke liewe wedren vanjaar te wen.

Tog meen die 38-jarige Brit dat hy nie sommer sal hensop nie, selfs al loop die riemtelegramme dat hy dalk groener weivelde sal soek as Mercedes voortgaan om tweede viool te speel.

“Mercedes ondersteun my al sedert my 13de verjaardag. Ons het verlede jaar ʼn moeilike jaar gehad en ek is steeds deel van die opset. Terselfdertyd maak dit ook nie saak of vanjaar ʼn moeilike jaar gaan wees of nie; ek sal steeds hier wees,” het Hamilton gesê.

Ondanks die feit dat ʼn agtste wêreldtitel hom nou al vir ʼn paar seisoene ontwyk, glo hy dat dinge weer gladder sal verloop.

“Ek is ʼn vegter en as span sal ons aanhou om saam vir elke punt te veg. Ek is mal daaroor om oplossings vir probleme te kry en ek weet dat ek nog steeds dinge op die baan kan doen wat ander dalk nie kan nie. Natuurlik wens ek dat ons renmotor vanuit die staanspoor op alle suiers gevuur het, maar dit is uiteindelik die reis [na die eindwenstreep] wat die belangrikste is.”

Ten spyte van Hamilton se veglustige praatjies meen Martin Brundle dat die gevaarligte vir hom moet flikker; veral omdat Mercedes ook agter ʼn Aston Martin en ʼn Ferrari geëindig het.

“Die son is inderdaad besig om op sy loopbaan te sak, maar ek glo dat hy nog vir ʼn goeie vyf jaar agter die stuur van ʼn renmotor kan wees. Kyk byvoorbeeld na Fernando Alonso; hy is drie jaar ouer as Hamilton, maar hy is tans op sy beste,” het die oudrenjaer gesê.

Volgens Brundle het Hamilton baie redes om by Mercedes te bly – die span moet net aan hom verduidelik hoe hulle die situasie kan beredder.

Maar dan het Ayrton Senna byvoorbeeld McLaren vir Williams gelos, terwyl Michael Schumacher sy pad na Ferrari gevind het.

“Hierdie renjaers was nie bang vir verandering en om dinge te laat gebeur nie.  Ek is seker daarvan dat Lewis ook al soortgelyke gedagtes gehad het.”

Die F1-aksie word hierdie Sondag in Saoedi-Arabië hervat.

Jaerspunteleer:

  1. Max Verstappen (Red Bull): 25 punte
  2. Sergio Perez (Red Bull): 18 punte
  3. Fernando Alonso (Aston Martin): 15 punte
  4. Carlos Sainz (Ferrari): 12 punte
  5. Lewis Hamilton (Mercedes): 10 punte
  6. Lance Stroll (Aston Martin): 8 punte
  7. George Russell (Mercedes): 6 punte
  8. Valtteri Bottas (Alfa Romeo): 4 punte
  9. Pierre Gasly (Alpine): 2 punte
  10. Alex Albon (Williams): 1 punt

Vervaardigerspunteleer:

  1. Red Bull: 43 punte
  2. Aston Martin: 23 punte
  3. Mercedes: 16 punte
  4. Ferrari: 12 punte
  5. Alfa Romeo: 4 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Groen Ghoen ·

Op ‘n stadium moet Mercedes seker begin om te besef dat hierdie arrogante vent hul handelsmerk skade berokken? Schumacher was altyd nederig en ‘n spanspeler. Wen hierdie meneer sy 8ste titel sal hy seker vra dat die son voor hom moet buig.

Hennie Biebouw ·

Lewis Hamilton het nie naastenby dieselfde vermoeë as Fernando Alonso om steeds goed te doen in ‘n nie-kompeterende motor. Dit is ook wat van Ayrton Senna en Michael Schumacher die legendes gemaak het wat hul vandag is. Beide was nie net briljante bestuurders nie, maar het ook ‘n werkende kennis gehad van ‘n F1-motor, en hoe om die beste uit die ontwerp te haal. Hamilton wil net opdaag by die baan, en die vinnigste motor hê. Wanneer dinge egter moeilik raak, verdwyn hy soos ‘n perdepoep in die maanskyn.

KB ·

Hamilton is soos die ANC…hy weet nie wanneer om op te hou/gee nie.
Gaan net weg. Ons hou nie van jou nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.