Maande van rehabilitasiewerk wag op Rafa

Rafael Nadal. (Foto: Twitter.)

Rafael Nadal was Vrydag op die operasietafel in ʼn poging om die heupbesering – wat hom al vir maande lángs die baan hou – te behandel.

“Hallo almal. Soos julle weet het ek ʼn operasie ondergaan en alles het goed verloop,” het die Spanjaard op sosiale media gedeel.

Die wenner van 22 Grand Slam-titels, wat gister ook sy 37ste verjaardag gevier het, het aangedui dat die rehabilitasieprosies tot vyf maande kan duur.

Dit beteken dat hy waarskynlik nie weer vanjaar op die internasionale verhoog sal afslaan nie. Die Australiese Ope in Januarie 2024 is ʼn meer realistiese terugkeer-tot-die-baan-doelwit.

Nadal het in Mei aangekondig dat hy die Franse Ope vir die eerste keer in 18 jaar sal misloop, terwyl 2024 sy laaste jaar as ʼn professionele tennisspeler kan wees.

Hy was veral hartseer om nie die beste spelers die stryd op Roland-Garros aan te sê nie. Want vir baie tennisliefhebbers is Rafael Nadal die Franse Ope en die Franse Ope is Rafael Nadal.

“Dit sal die eerste keer in jare wees dat ek nie in Parys is nie; by ʼn toernooi wat ongelooflik baie vir my beteken. Maar as ek nou aanhou speel, sal ek dalk nie volgende jaar maak nie. Tog sal Roland-Garros maar altyd Roland-Garros wees. Dit maak nie saak of ek daar is of nie.”

In sy afwesigheid is spelers soos Carlos Alcaraz, Novak Djokovic en Stefanos Tsitsipas die gunsteling om met die toernooi-louere in die Franse hoofstad weg te stap.

Al drie spelers het intussen na die vierde ronde op Roland-Garros deurgedring.

Franse Ope-uitslae:

Alexander Zverev klop Frances Tiafoe met 3-6, 7-6, 6-1 en 7-6

Grigor Dimitrov klop Daniel Altmaier met 6-4, 6-3 en 6-1

Francisco Cerundolo klop Taylor Fritz met 3-6, 6-3, 6-4 en 7-5

Holger Rune klop Genaro Alberto Olivieri met 6-4, 6-1 en 6-3

Casper Ruud klop Zhang Zhizhen met 4-6, 6-4, 6-1 en 6-4

Ons Jabeur klop Olga Danilovic met 4-6, 6-4 en 6-2

Iga Swiatek klop Wang Xinyu met 6-0 en 6-0

Coco Gauff klop Mirra Andreeva met 6-7, 6-1 en 6-1.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.