‘Max het binnebaan om titelresies te wen – Lewis

Max Verstappen en Lewis Hamilton. Foto: Christophe Simon/AFP.

Daar lê weliswaar nog tien wedrenne op die F1-kalender voor, maar Lewis Hamilton meen dat Max Verstappen die gunsteling is om weer met die wêreldtitel-louere weg te stap.

Ná die naweek se Franse Grand Prix geniet die Red Bull-renjaer nou ’n gemaklike voorsprong van 63 punte bó Charles Leclerc in die tweede plek.

“Max het tans so ’n groot voorsprong en daar is nie veel hindernisse in sy pad nie,” het Hamilton gesê.

Voeg daarby Leclerc wat gereeld ’n wedrenvoorsprong in sy Ferrari wegsmyt en die Mercedes-renjaer se voorspelling kan beslis ’n werklikheid word.

Iemand soos Ralf Schumacher, broer van die F1-legende Michael Schumacher, het juis vroeër grappenderwys gesê dat Ferrari tans Red Bull se grootste bondgenoot op die renbaan is.

Leclerc was die afgelope naweek oënskynlik op koers na ’n maklike sege in Frankryk voordat die noodlot in die 18de ronde toegeslaan het. Hy het beheer om ’n draai verloor en sy vuurwa het met ’n harde slag teen ’n versperring tot stilstandgekom.

Die Monte Carlo-boorling het reeds sewe keer vanjaar heel voor weggespring, maar kon nog net drie wedrenne (teenoor Verstappen se sewe triomftogte) wen, terwyl hy ook ’n paar keer nie ’n wedren kon voltooi nie.

Nietemin is F1 ’n onvoorspelbare sportsoort.

Ja, volgens slim mense is dit vir Verstappen statisties moontlik om met die wêreldtitel weg te stap selfs al sou hy in al die oorblywende wedrenne tweede eindig, maar enigiets kan nog gebeur.

“Eintlik kan daar nog baie dinge vir Red Bull verkeerd loop. Ek sal vir Ferrari aanraai om net aan te hou veg,” het Hamilton gewaarsku.

  • Die Hongaarse Grand Prix begin Sondag om 15:00 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Jaerspunteleer:

  1. Max Verstappen: 233 punte
  2. Charles Leclerc: 170 punte
  3. Sergio Perez: 163 punte
  4. Carlos Sainz: 144 punte
  5. George Russell: 143 punte
  6. Lewis Hamilton: 127 punte
  7. Lando Norris: 70 punte
  8. Esteban Ocon: 56 punte
  9. Valtteri Bottas: 46 punte
  10. Fernando Alonso: 37 punte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Groen Ghoen ·

Dankie tog vir kompetisie na die eentonige Mercedes oorwinnings week na week, jaar na jaar. Al wen Biden op sy baaisiekel ook die F1 titel, sal dit ‘n verbetering wees.

Harley Davidson ·

Max en die jong Schumacher gaan die F1 vir ‘n goeie paar jare oorheers.

Karinb ·

Aan Charles Leclerc (en Ferrari) se ondersteuners: Moenie moed opgee nie, Charles is ‘n briljante bestuurder en moet net koelkop bly … soos Max Verstappen. Alle eer aan Max vir sy uitstekende vertonings vanjaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.