Max krap kop oor Lewis se Chelsea-planne

Lewis Hamilton. Foto: Twitter.

Volgens berigte wil Lewis Hamilton en Serena Williams hul beursies in ’n gesamentlike poging oopmaak om die Chelsea-sokkerspan oor te neem.

Hamilton is een van die rykste sportpersoonlikhede ter wêreld en nou beplan hy om finansiële kragte met Williams en Martin Broughton (’n Britse sakeman) saam te snoer om die gewilde Engelse sokkerklub te bekom.

Dit kom nadat Chelsea se huidige eienaar, die skatryk Rus Roman Abramovich, vroeër aangedui het dat dit in die beste belang van die klub se ondersteuners, werknemers en borge is as hy van die eienaarskap afstand doen.

Volgens Sky News het die twee sportsterre ingestem om in die konsortium – onder leiding van Broughton – te belê.

Serena Williams. Foto: (AP Photo/Adam Hunger)

Die Britse nuuswebblad berig dat Hamilton, natuurlik as hul bod suksesvol is, ’n groot rol in Chelsea se toekomstige pogings sal speel om gelykheid en diversiteit te bevorder.

Die nuus het soos ’n veldbrand versprei en natuurlik sorg dit vir lekker skietgoed vir Hamilton se F1-teenstanders; veral as jy in ag neem dat die 37-jarige Engelsman eintlik ’n ander Britse sokkerklub ondersteun.

“Ek het nog altyd gedink hy is ’n Arsenal-ondersteuner,” het Max Verstappen geskerts.

“Ek is ’n PSV Eindhoven-ondersteuner en ek sal nie eens daaraan dink om Ajax Amsterdam te koop nie. Maar as ek ooit ’n klub sou koop, sal ek in volle beheer wil wees en nie net ’n klein persentasie besit nie.”

Hamilton en Williams wil glo ’n paar miljoen pond in Broughton se poging belê, terwyl Chelsea vir miljarde in die mark is.

Die verdedigende wêreldkampioen is egter die ene erns wanneer hy oor Sondag se Grand Prix in Italië praat.

Max Verstappen. Foto: Andrej Isakovic/AFP.

Ná enjinprobleme reeds twee keer in drie wedrenne ’n stokkie voor sy podiumdrome gesteek het, is hy nou oorgehaal om sy stempel af te druk en om Charles Leclerc op die jaerspunteleer in te haal.

“Danksy die nuwe regulasies het Ferrari uitstekend begin en dit is ons verantwoordelikheid om hulle in te haal. Tog is dit goed vir die sportsoort as twee jong renjaers sake om die topplek uitspook; Charles is ’n lekker aggressiewe renjaer en ek geniet ons tweestryde.”

Die wedren begin Sondag om 13:00 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.