Max reeds een van die bestes nóg – Rosberg

Max Verstappen (Foto: Jim WATSON / AFP)

Soos wat dinge nou staan, is Max Verstappen goed op koers om nóg ’n wêreldtitel in te oes.

Die Red Bull-renjaer het drie wedrenne op ’n streep – in Miami, Monte Carlo en Barcelona – gewen en hy het 53 punte meer as sy naaste teenstander op die amptelike jaerspunteleer.

Ja-nee, as F1 met ’n musiekgroep vergelyk kan word, sou Verstappen ongetwyfeld Simon wees en die res van die renjaers Garfunkel.

Dieselfde naam word immers altyd eerste gelees.

Geskiedenis wink ook hierdie naweek vir die 25-jarige Nederlander. Indien hy weer met die louere in Kanada sou wegjaag, sal hy met net soveel wedrenseges [41] as die legendariese Ayrton Senna spog.

En volgens Nico Rosberg is F1-liefhebbers bevoorreg om ’n renjaer van Verstappen se gehalte in aksie te sien.

“Ons is besig om iets geskiedkundigs eerstehands te  ervaar. Dit is eintlik ’n ongelooflike vertoning en kan in dieselfde asem as dié van [Michael] Shumacher, [Lewis] Hamilton en Senna genoem word,” het die voormalige F1-kampioen aan Sky Sports gesê.

(Foto: Attila Kisbenedek/AFP.)

Verstappen het al vantevore oor die moontlikheid van ’n vroeëre uittrede gepraat en volgens Rosberg het hy begrip daarvoor.

“Max het vir die eerste keer in 2021 daaroor begin praat. Dit is dieselfde jaar as sy groot swaardkruissessie met Hamilton. Só ’n vurige tweestryd is ongelooflik intens en dit haal beslis die pretfaktor uit die sport.”

Rosberg meen dat F1 met tye ongenaakbaar kan wees – veral as jy die renjaer is wat die meeste kan verloor as dinge nie heeltemal volgens plan verloop nie.

“Dit kan baie veeleisend wees as mense dit amper as vanselfsprekend begin aanvaar dat die geruite vlag met elke liewe wedren vir jou sal swaai. Ek kan egter myself nie in Max se skoene plaas nie – hy het genoeg geld gemaak, terwyl hy reeds een van die bestes ooit is.”

Renjaers met die meeste wedrenoorwinnings:

  1. Lewis Hamilton: 103
  2. Michael Schumacher: 91
  3. Sebastian Vettel: 53
  4. Alain Prost: 51
  5. Ayrton Senna: 41
  6. Max Verstappen: 40
  7. Fernando Alonso: 32
  8. Nigel Mansell: 31
  9. Jackie Stewart: 27
  10. Jim Clark en Niki Lauda: 25

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.