Max wéér bobaas in Nederland

Max Verstappen het weer eens met die louere in Nederland weggejaag. Foto: Twitter.

Strategie kan ’n deurslaggewende rol in ’n F1-wedren speel – wanneer moet ’n renjaer die kuipe besoek, met watter soort band moet hy toegerus word, ensovoorts.

Maar ná 72 aksiebelaaide rondes op die Zandvoort-renbaan het ’n see van oranje toeskouers kliphard saamgesels toe Max Verstappen vir die tweede agtereenvolgende jaar met die louere in Nederland weggejaag het.

“Die uitslag was hoegenaamd nie ’n uitgemaakte saak nie en ons was deurgaans op ons tone. Die veiligheidsmotor en strategieë het dinge moeilik gemaak, maar ons het uiteindelik die korrekte besluite geneem,” het die 24-jarige Nederlander gesê.

Red Bull en Mercedes was knaend in ’n kat-en-muis-stryd gewikkel: Eers was Verstappen blitsig met sy sagter bande, waarna Lewis Hamilton met harder bande sy stem dik gemaak het.

Die ervare Mercedes-renjaer het selfs vir ’n ruk die voortou geneem en daar was ’n besliste moontlikheid dat die geruite vlag uiteindelik vir hom sou swaai.

Maar toe ’n veiligheidsmotor laat in die wedren sy verskyning maak, het Verstappen sy kans met albei hande aangegryp.

Hy is met sagter, vinniger bande toegerus en het onmiddellik ’n briesende Hamilton (toe steeds op medium bande) verbygesteek.

“Ek het goed gevoel toe die aksie weer hervat is en ek kon met mening by die eerste draai aanval. Ons tydsberekening was eintlik perfek,” het ’n ingenome Verstappen gesê.

Die Nederlander geniet nou ’n voorsprong van 109 punte op die jaerspunteleer, terwyl Red Bull se voorsprong op die vervaardigerspunteleer tot 135 punte gespring het.

Moet ook nie dink dat dinge meer rooskleurig vir Hamilton geword het nie – sy spanmaat George Russell het hom óók verbygesteek.

Dan was dit weer eens ’n hartseer dag vir Ferrari.

Charles Leclerc moes met ’n derde plek tevrede wees, terwyl Carlos Sainz omtrent vir jou in die kuipe gesukkel het.

Uitslae:

  1. Max Verstappen (Red Bull)
  2. George Russell (Mercedes)
  3. Charles Leclerc (Ferrari)
  4. Lewis Hamilton (Mercedes)
  5. Sergio Perez (Red Bull)
  6. Fernando Alonso (Alpine)
  7. Lando Norris (McLaren)
  8. Carlos Sainz (Ferrari)
  9. Esteban Ocon (Alpine)
  10. Lance Stroll (Aston Martin)

Jaerspunteleer:

  1. Max Verstappen 310 punte
  2. Charles Leclerc 201 punte
  3. Sergio Perez 201 punte
  4. George Russell 188 punte
  5. Carlos Sainz 175 punte
  6. Lewis Hamilton 158 punte
  7. Lando Norris 82 punte
  8. Esteban Ocon 66 punte
  9. Fernando Alonso 59 punte
  10. Valtteri Bottas 46 punte

Vervaardigerspunteleer:

  1. Red Bull 511 punte
  2. Ferrari 376 punte
  3. Mercedes 346 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Andre ·

Wel gedaan Max !!
Daar is niemand wat by hom kers kan vashou op die oomblik nie beste drywer beste span uitstekende spanwerk

piet ·

Hamilton sou gewen het as dit nie vir die “safety car” was nie. Daar is definitief reels wat vir my nie lekker sin maak nie. ‘n Ou kan voorloop en as die “safety car” ontplooi word, word almal bevoordeel behalwe die voorloper (die ander jaers kry byvoorbeeld die geleentheid om die agterstand uit te wis). Boonop kry jaers die geleenthied om bande te verwissel gedurende hierdie tyd en dit kan ‘n groot voordeel wees afhangende van waar jy op die baan is sodra die “safety car” ontplooi word. Ek reken die gapings tussen die jaers voor die ontplooiing van die safety car moet in berekening gebring word wanneer die wedren weer volstoom hervat en ek dink ook die jaers moet verbied word om bande te ruil gedurende die ontplooiing van die safety car. Mercedes is besig om die gaping op die baan kleiner te maak, tot dusver het Red Bull die beter kar gehad.

Jackie ·

Hamster sou nie gewen het nie imo. Safty car is maar een van daai dinge deel van die reels. Hamilton het al baie gebaat deur dieselfde reels.

Koos 100 ·

Piet, jy is nogal baie reg, maar die reëls is van toepassing op almal. Merc het die keuse weereens met Lewis verkeerd gehad en moes die prys betaal.

piet ·

Ek weet die reels geld vir almal maar my opmerking was oor die uitwerking daarvan oor die algemeen. Die voorloper (wie dit ookal is) word ALTYD benadeel met die ontplooiing van die safety car (en so ook al die voorlopers in terme van hul voorsprong op die baan). Die jaers werk hard om ‘n voorsprong op te bou en dan eensklaps is dit daarmee heen wanneer die safety car ontplooi word. Vir my is dit nie reg nie. Mercedes kon nie voorspel dat die safety car ontplooi sal word nie. Ek dink die regverdigste sal wees indien die situasie soos dit voor die ontplooing van die safety car was, voortgesit word na die safety car.

piet ·

Die safety car reels is so belaglik dat ‘n jaer wat amper ‘n hele ronde agter die voorloper is onmiddellik agter die voorlopers kan stelling inneem. So ‘n jaer kon maklik omtrent 6km agter die voorloper gewees het voor ontplooing van die safety car. Nou kom ons neem ‘n voorbeeld. Kom ons veronderstel Verstappen het een of ander probleempie gehad wat uitgesorteer is en hy tree weer toe tot die wedren omtrent ‘n hele ronde agter die voorloper. Nou kom die safety car uit en hy kry ‘n vrypas om direk agter die voorloper in te val. Nou is hy weer in die wedren en kan dit wen waar hy dit nooit sou reggekry het vanaf sy vorige posisie op die baan nie. Werklik ‘n belaglike situasie.

Koos 100 ·

Piet, ek stem saam. Miskien moet almal kuipe toe gaan en weer van die “pitlane” weg spring, met die bepaalde tussen posses soos wat dit was op die baan teen die rondte voor die insident?

Boer ·

Go Super Max jy is ‘n yster in die RedBull motor, jy wys almal dat jy die ware kampioen.

piet ·

Hy’t net ‘n beter kar gehad sover, Mercedes is besig om dinge om te draai.

Koos 100 ·

Laas week het ek gewonder hoe lank Mattio by Ferrari geduld sal word, toe maak hulle seker die mees ondenkbare foute!
En lyk my hy deel sy wysheid met Toto. Ondenkbaar dag Lewis nie sagte bande tydens die laaste veiligheidskar gekry het nie.

MakersMark ·

Al wat hamster doen is kerm en kla en almal blameer. Selfs sy onervare spanmaat wen hom met dieselfde kar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.