Max wen ondanks rits rooi vlae

Die geruite vlag is vir Max Verstappen in Melbourne geswaai. Foto: Twitter.

Daar was vandag hope aksie, drama en rooivlagchaos in Melbourne, maar te midde van alles is die geruite vlag vir Max Verstappen geswaai.

Die Red Bull-renjaer het weliswaar kort ná die wegspring plekke met Lewis Hamilton geruil, maar hy het in die 12de rondte weer die voortou geneem om ʼn voorsprong van amper tien sekondes op te bou.

Maar die Melbourne-strate het vir drie rooi vlae gesorg en die verdedigende wêreldkampioen moes wag om sy eerste wedren in Australië te wen.

“Ek was baie versigtig agter die stuur; daar was vir ons immers baie op die spel. Ja, dit het in ʼn deurmekaarspul ontaard, maar ons het staande gebly om te wen,” het Verstappen gesê.

Volgens Hamilton, wat tweede geëindig het, is hy steeds nie heeltemal op sy gemak in die Mercedes-renmotor nie.

“Ek het nog nie heeltemal ʼn band met die renmotor nie. Al wag daar nog baie harde werk op ons, is ek baie tevrede met vandag se uitslag. Dit gaan taai wees om Red Bull in te haal, maar dit is nie onmoontlik nie.”

Sy Mercedes-spanmaat, George Russell, moes egter die aftog blaas nadat sy vuurwa aan die brand geslaan het.

Die immergroen Fernando Alonso het weer eens derde oor die eindstreep gejaag.

Die 41-jarige Spanjaard is tans ʼn derduiwel agter die stuur van sy Aston Martin en hy sal alles in die stryd werp om weer heel bó op die poduim te staan.

Ferrari het egter ʼn hartseer dag in Melbourne gehad. Charles Leclerc het sommer kort ná die wegspring kontak met Alonso gemaak en hy moes druipstert die aftog blaas.

Die Monte Carlo-boorling het later Ferrari se aanloop tot die seisoen as “ʼn ramp” beskryf nadat Carlos Sainz ook met ʼn paar sekondes beboet is om uiteindelik 12de te eindig.

Voorlopige wedrenuitslae:

  1. Max Verstappen (Red Bull)
  2. Lewis Hamilton (Mercedes)
  3. Fernando Alonso (Aston Martin)
  4. Lance Stroll (Aston Martin)
  5. Sergio Perez (Red Bull)
  6. Lando Norris (McLaren)
  7. Nico Hulkenberg (Haas)
  8. Oscar Piastri (McLaren)
  9. Zhou Guanyu (Alfa Romeo)
  10. Yuki Tsunoda (AlphaTauri)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.