Mooi so! Magda wen in Frankryk

Magda Nieuwoudt het met die louere by ’n driekampbyeenkoms in Frankryk weggestap. (Foto: Verskaf)

Swem. Fietsry. Draf. Herhaal.

Dít is g’n Afrikaanse treffer nie, maar die sportmantra wat Magda Nieuwoudt daagliks herhaal.

Dié Pretorianer is ʼn professionele driekampatleet wat aan die stuur van Trivium Triathlon staan. Wanneer sy dus nie self op die fiets of in die swembad is nie, is sy langs die swembad; besig om die klublede tot groter hoogtes aan te spoor.

En driekamphoogtes is juis iets waarna sy self streef.

Nieuwoudt het die afgelope naweek met die louere by die Challenge Frejus in Frankryk weggestap, terwyl sy binnekort ook in Suid-Korea in aksie sal wees.

(Foto: Verskaf)

“Ek dink om die beste te wees is elke atleet se droom. ʼn Mens wil wen en jouself tot die beste van jou vermoëns druk. Daar is ʼn wêreldranglys en ek wil beslis onder die topatlete tel,” het sy aan Maroela Media gesê.

Volgens dié oudleerder van die Gekombineerde Skool Christiana staan haar internasionale loopbaan nou eers in sy babaskoene, maar sy is ongetwyfeld besig om ʼn tree in die regte rigting te gee.

“As ʼn atleet moet jy aanvanklik teen soveel ander goed as net jou teenstanders baklei. Dinge soos finansies, onderteuning, visums en politiek speel alles ʼn rol. Jy moet eers soveel dinge uitsorteer voordat jy net jou potensiaal vir ander kan wys.”

Sy skaaf daagliks aan haar vaardighede en haar oefenboekie vertel ʼn storie van toewyding en vasberadenheid: Sy oefen tot 30 uur per week.

“Dissipline is ongetwyfeld die sleutel tot sukses – van jou slaap- en eetgewoontes tot jou gedagtegang en dit waaraan ʼn mens jou energie spandeer. Alles hang af van hoe jy jouself daagliks dissiplineer.”

(Foto: Verskaf)

Nieuwoudt het in 2021 positief vir Covid-19 getoets en daarna het sy ʼn spul toetse en hartsonars ondergaan nadat ʼn hartdefek ʼn paar jaar gelede by haar gediagnoseer is. Sy moes destyds op só ʼn manier oefen dat haar hart nie vinniger as 120 slae per minuut klop nie.

“Ek is nou gesond. My mees onlangse opvolgbesoek was trouens die beste nóg – ek is uit die gevaarsone.”

Om na die beste van jou vermoë te presteer mag dalk soos ʼn cliché klink as iemand anders dit sê, maar nie wanneer Nieuwoudt praat nie.

(Foto: Verskaf)

“Nou kan ek race. Dit is die lekkerste om jouself tot groter hoogtes aan te spoor en om as’t ware jou negatiewe gedagtes vir ʼn ses te slaan.”

Die volgende driekampavontuur sal ʼn volledige storie wees: 3,8 km swem, 180 km fietstrap en 42,2 km draf.

En Nieuwoudt sal na Suid-Korea reis met die wil om te wen. Hoe dan anders?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.