MotoGP: Binder val, eindig laaste in Argentinië

(Foto:
Red Bull KTM Factory Racing/Twitter)

Stroopsoet op Saterdag maar asynsuur op Sondag.

Só kan Suid-Afrika se motorfietsheld Brad Binder (Red Bull KTM) se naweek op die Termas de Rio Hondo-baan in Santiago opgesom word.

Nadat Binder Saterdagaand ʼn ongelooflike oorwinning in die vooraf naelren oor 12 rondtes behaal het, is sy drome Sondag in die MotoGP ná slegs 30 sekondes beëindig toe hy in die vyfde draai geval het.

Binder, wat in die vierde wegspringry in die 12de posisie weggespring het, het probeer voortjaag, maar in die reën en nat baan was dit ʼn onbegonne taak met ʼn groot agterstand.

Die beamptes het ʼn ondersoek van stapel gestuur of Maverick Viñales (Aprilia Racing) tot Binder se valslag bygedra het, maar hulle kon geen fout vind nie.

Binder het 17de van die 17 jaers geëindig.

Die MotoGP is deur Marco Bezzecchi (Mooney VR46 Ducati) gewen, met Johann Zarco (Pramac Ducati) tweede,  Alex Marquez (Gresini Ducati) derde, Franco Morbidelli (Monster Yamaha) vierde en Jorge Martin (Pramac Ducagi) vyfde. Binder se spanmaat, die Australiër Jack Miller (Red Bull KTM), was sesde.

Dit was Bezzecchi se eerste oorwinning in MotoGP en hy loop ná twee renne voor op die kampioenskapspuntelys (50 punte).

Hy word gevolg deur die huidige wêreldkampioen, Franceso Bagnaia (41), wat Sondag ook geval en 16de geëindig het. Zarco (35) is derde, Marquez (33) vierde), Viñales (32) vyfde en Miller (25) sesde.

Binder (22 punte) is agtste.

Die volgende MotoGP is op 16 April in Austin, Texas, met die naelren op 15 April.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.