MotoGP: Brad Binder só naby aan podiumplek

Brad Binder. (Foto: Javier Soriano / AFP)

Dit was Sondag in Aragon, Spanje, weer ʼn geval van so naby, maar steeds te ver vir Suid-Afrika se Brad Binder (Red Bull KTM) in die Aragon MotoGP op Motorland.

Binder het die kommentators gaande gehad nadat hy tiende weggespring het en tot tweede posisie opgeskuif het.

Hier kom ʼn ding, het Binder se ondersteuners vas geglo nadat ʼn podiumplek die soveelste keer vir hom gewink het.

Maar weer was die geluk nie aan sy kant nie nadat hy in die voorlaaste rondte deur Alex Espargaro (Aprilia) verbygesteek is wat hom van ʼn podiumplek beroof het.

Die Italianer Enea Bastianini (Gresini Ducati) het die Grand Prix gewen nadat hy sy landgenoot Francesco Bagnaia (Ducati Lenovo) in die laaste rondte verbygesteek het.

Bastianini, wat The Beast genoem word vir sy onverskrokke ryvernuf, het Bagnaia van ’n vyfde opeenvolgende sege weerhou.

Espargaro was derde, Binder vierde, Jack Miller (Ducati Lenovo) vyfde en Jorge Martin (Pramac Ducati) sesde.

Fabio Quartararo (Monster Yamaha), die huidige wêreldkampioen en voorloper op vanjaar se puntelys, se ren is reeds in die eerste rondte beëindig nadat sy Yamaha se voorwiel kontak met Marc Marquez se Repsol Honda gemaak het.

Quartararo het neergeslaan en oor die gruis gegly.

Hy is met ʼn bromponie na die kuipe geneem waar hy medies ondersoek is. Hy het sy bors vasgehou en kruppel geloop, maar volgens sy spanbestuur het hy geen ernstige beserings opgedoen nie.

Quartataro was vyf renne gelede nog 91 punte voor Bagnaia op die puntelys, maar sy voorsprong het tot slegs 10 punte gekrimp. Met slegs ʼn paar renne oor, stuur dit op ongekende opwinding af.

Marquez, wat byna drie en ʼn halwe maande laas gejaag het ná vier arm-operasies ná ’n ongeluk, gaan opnuut nagmerries beleef.

Marquez het 13de weggespring en in die eerste rondte sewe ander jaers verbygesteek voor die ongeluk waarby Quartararo betrokke was. Hy het aanhou jaag, maar hy is in die sewende draai deur Takaaki Nakagami (Honda) getref.

Nakagami het op die baan neergeslaan en dit was ’n wonderwerk dat verskeie van die ander jaers wat agter hom was, woes gerem het en hom teen hoë snelhede vermy het terwyl hy hulpeloos oor die baan gegly het.

Soos hulle sê: MotoGP is nie ʼn plek vir sissies nie.

Binder het na sy vierde plek nou 128 punte en is sesde op die kampioenskapspuntelys. Hy is vyf punte voor Miller.

Brad Binder se jonger broer, Darryn (Yamaha) was 18de.

Mede-bron: crashnet.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Barend ·

En dit met ‘n motorfiets wat nie saam met die voorlopers kan gesels nie. Elke keer wat hy goed doen is in buitengewone omstandighede soos reën. Ek ondersteun hom in elk geval baie ernstig.

Boer ·

As Brad Binder in ‘n beter posisie vir die wedren op Sondae kan kwalifiseer, gaan hy dan meer wedrenne wen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.