MotoGP: Brad Binder steeds nie op podium

Brad Binder. (Foto: Javier Soriano / AFP)

Dis darem ʼn groot jammerte dat Suid-Afrika se Brad Binder (Red Bull KTM) swak in kwalifisering vaar en sy renfiets nie mededingend genoeg in vanjaar se MotoGP is nie.

Binder het Sondag in Misano in die San Marino MotoGP agtste geëindig nadat hy in die 15de posisie weggespring het.

Hy het wel aan sy sewende plek op die kampioenskapspuntelys geklou, maar ʼn podiumplek bly hom steeds ontwyk.

Die ren is deur die Italianer Francesco Bagnaia (Ducati Lenovo) gewen. Dit is sy sesde oorwinning vanjaar.

Dit was Bagnaia se vierde opeenvolgende oorwinning en hy het die eerste jaer van die Ducati-renspan geword wat dit vermag het.

Enea Bastianini (Gresini Ducati) was met ʼn kortkop tweede (net 300 honderdstes van ʼn sekonde agter Bagnaia) met Maverick Vinales (Aprilia) derde, gevolg deur Luca Marini (Ducati), Fabio Quartararo (Yamaha) en Aleix Espargaro (Aprilia).

Quartararo, die huidige wêreldkampioen, het aan sy voorsprong op die puntelys geklou en hoewel sy fiets nie by die voorlopers kon byhou nie, is hy heel waarskynlik, te danke aan sy uitstaande ryvernuf, op pad om sy titel te behou.

Hy spog nou met 211 punte, gevolg deur Bagnaia (181) en Espargaro (178 punte) met nog ses renne vanjaar oor.

Binder (115 punte) het sy sewende posisie behou.

Die Grand Prix was ʼn nagmerrie vir die Aussie Jack Miller (Ducati), wat die eerste keer in vier jaar in die voorste wegspringposisie was.

Miller het reeds in die tweede ronde geval en sy drome was daarmee heen.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.