MotoGP: Brad eindig agtste in Maleisië

Brad Binder (Foto: Adrian Dennis / AFP)

Dit was gister op die Sepang-renbaan dieselfde ou storie: As Brad Binder (Red Bull KTM) swak in kwalifisering vaar, het hy bittermin kans om op MotoGP se podium te staan.

Daarvoor is die mededinging vanjaar te kwaai en die gaping tussen die topjaers te klein. Boonop het die Ducati-renspan die hef in die hand.

Binder, wat 13de in die Maleisiese MotoGP weggespring het, het agtste in die voorlaaste ren in vanjaar se reeks geëindig, 16.805 sekondes agter die wenner.

Die Grand Prix is deur Francesco Bagnaia (Ducati Lenovo) gewen, wat sy voorsprong bo die huidige wêreldkampioen, Fabio Quartararo (Yamaha), vergroot het.

Quartararo het weliswaar derde geëindig en het steeds ʼn buitekans om sy titel te behou.  Maar Bagnaia kort net twee punte in die laaste ren oor twee weke in Valencia in Spanje om as kampioen gekroon te word.

Bagnaia was Sondag eerste in 40 minute en 14.332 sekondes, gevolg deur Enea Bastianini (Gresini Ducati), Quartararo, Marco Bezzecchi (Mooney VR46 Ducati), Alex Rins (Suzuki), Jack Miller (Ducati Lenovo), Marc Marquez (Repsol Honda) en dan Binder.

Bagnaia, wat sewe renne vanjaar gewen het, verdien om as kampioen gekroon te word. Hy was baie bestendig en vinnig en spog met 258 punte, gevolg deur Quartararo (235) en Aleix Espargaro (212).

Binder is in die sesde posisie met 168 punte, maar net twee punte voor Johann Zarco (Pramac Ducati) wat Sondag negende was.

Binder se jonger broer Darryn (Yamaha), het geval en kon nie die Grand Prix voltooi nie.

Die seisoen sluit oor twee weke in Valencia af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.