MotoGP geruk deur 19-jarige se dood

Fabio Quartararo met die Switserse vlag. (Foto: Tiziana FABI/AFP)

Fabio Quartararo het oorheers in Sondag se Italiaanse MotoGP te midde van ʼn somber atmosfeer by die Mugello-baan ná die dood van die 19-jarige Moto3-jaer Jason Dupasquier.

Die jong Switserse ryer het noodlottige beserings opgedoen in ʼn ongeluk tydens Saterdag se kwalifiserende rondes.

“Ons ken almal die risiko’s, maar dit is moeilik om een van jou eie te verloor,” het Quartararo, Franse wêreldkampioen, gesê. Hy het ʼn Switserse vlag op die podium gehou ter ere van Dupasquier wie se belowende jong loopbaan op ʼn wrede wyse kortgeknip is.

“Hierdie een is vir Jason. Ek het hom nie regtig geken nie, hy was net ʼn kind. Ek het probeer om dit uit my gedagtes te kry, maar ek het elke keer aan hom gedink wanneer ek verby die ongelukstoneel gery het.”

Jason Dupasquier. (Foto: MotoGP/Twitter)

Dupasquier, in sy tweede seisoen van Moto3, het geval en is deur minstens een fiets getref. Dokters het hulle na die toneel gehaas en hom 40 minute lank op die baan behandel voor hy na ʼn hospitaal geneem is.

Dupasquier is later in ʼn hospitaal in Florence dood nadat hy erge breinskade opgedoen het en ʼn operasie aan sy bors ondergaan het.

Die ren is deur ʼn minuut van stilte voorafgegaan. Dit was die eerste noodlottige ongeluk sedert die dood van Luis Salom tydens ʼn oefenronde van die Katalonië Moto2 in Barcelona in 2016.

Dupasquier se span, Pruestel GP, het reeds ná die ongeluk aan Sondag se wedren onttrek en Tom Luthi, ʼn Switserse Moto2-ryer, het ook onttrek om Dupasquier se familie by die hospitaal by te staan.

Dupasquier se pa, Philippe, is ʼn voormalige motorfietsryer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Juls ·

As ek so na daardie jong gesig kyk, wonder ek waar hy hom nou bevind, ek wonder of hy die Here Jesus Christus geken het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.