MotoGP: Marques die 2018 Wêreldkampioen

Spanje se Marc Marquez vier sy oorwinning met sjampanje tydens die toekenningsgeleentheid van die Japanse MotoGP by die Motegi Twin Ring-baan, noord van Tokyo in Japan (21 Oktober 2018). Foto: AP Photo/Shizuo Kambayashi

Die Japanse MotoGP (die vierde laaste wedren van die jaar) is Sondag op die Motegi Twin Ring-baan in Japan gejaag. Die wedren is deur Marc Marques (Repsol Honda) gewen wat met die oorwinning as die 2018 Wêreldkampioen gekroon is. Dit is Marques se vyfde wêreldtitel in ses jaar. Cal Crutchlow (Honda) was tweede en Alex Rins (Suzuki) derde.

Tydens Saterdag se kwalifisering is die kollig deur Andrea Dovizioso en Ducati gesteel. Die voorloper op die punteleer, Marc Marquez, kon net sesde vinnigste kwalifiseer.

Die eerste ses posisies in die wegspringrooster is deur die bekwame jaers oorheers.

1 Andrea Dovizioso (Ducati)
2 Johann Zarco (Yamaha)
3 Jack Miller (Ducati)
4 Cal Crutchlow (Honda)
5 Andrea Iannone (Suzuki)
6 Marc Marques (Honda)

 

Met die wegtrek het Marc Marques (Repsol Honda) met drie posisies opgeskuif na die derde plek. Marques het egter met nóg ʼn posisie na ʼn verdere twee draaie verbeter en die tweede plek ingeneem. Andrea Dovizioso (Ducati) het die eerste plek beklee gevolg deur Marques met Jack Miller derde op die ander Ducati. Cal Crutchlow (Honda) het vierde gejaag.

Met 14 rondes oor was Andrea Dovizioso (Ducati) steeds voor met Marc Marques (Reposol Honda) kort op sy hakke. Cal Crutchlow (Honda) was derde, Andrea Iannone (Suzuki) vierde en Valentino Rossi (Movistar Yamaha) vyfde.

Met tien rondes oor het Suzuki se Andrea Iannone en Alex Rins die voorste drie jaers ingehaal en die vierde en vyfde posisies beklee. Iannone het egter van die baan gegly en sy wedren was verby.

Met vier rondes oor het Marc Marques (Reposol Honda) die voortou geneem terwyl Andrea Dovizioso (Ducati) met twee rondes oor van die baan af gegly het.

Marques (Reposol Honda) het die 2018 wêreldkroon syne gemaak deur eerste te eindig (agtste eerste plek van die seisoen). Cal Crutchlow (Honda) was tweede en Alex Rins (Suzuki) derde.

Spanje se Marc Marquez op sy Honda-motorfiets tydens ʼn oefensessie by die Motegi Twin Ring-baan, noord van Tokyo in Japan (20 Oktober 2018). Foto: AP Photo/Shizuo Kambayashi

Op die jongste punteleer is Marques nou met 102 punte voor.

1 Marc Marques (Repsol Honda) 296
2 Andrea Dovizioso (Ducati) 194
3 Valentino Rossi (Movistar Yamaha) 185
4 Maverick Vinales (Movistar Yamaha) 155

In die Moto2 het Suid-Afrika se Brad Binder sesde geëindig en hy is tans derde op die punteleer. Steven Odendaal was 20ste.

1        Francesco Bagnaia (Kalex) 279
2        Miguel Oliveira (KTM) 244
3        Brad Binder (KTM) 167
4        Lorenzo Baldassarri (Kalex) 148

In die Moto3 het Darryl Binder derde oor die eindstreep gejaag.

Die volgende wedren (die derde laaste wedren van die seisoen) word aanstaande Sondag in Australië gejaag.

Meer inligting is hier beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.