MotoGP: Marquez in ʼn klas van sy eie terwyl Pedrosa groet

Dani Pedrosa. Foto: AP Photo/Alberto Saiz

Die MotoGP van Valencia (die laaste wedren in vanjaar se reeks) word Sondag in Spanje gejaag.

Marc Marquez (Repsol Honda) gaan poog om sy een-en-sewentigste oorwinning van sy loopbaan te behaal terwyl een van die legendes van dié sport, Dani Pedrosa, in sy laaste wedren sal jaag.

Tydens die vorige wedren (op 4 November in Maleisië) het Marquez gemaklik gewen met Alex Rins (Suzuki Ecstar) tweede en Johann Zarco (Monster Yamaha Tech 3) derde. Met net vier rondes oor, het die voorloper in daardie stadium, Valentino Rossi, in draai een gegly en geval wat die eerste plek op ʼn skinkbord aan Marquez gegee het.

Die Ricardo Tormo-baan in Valencia is 4,005 km lank en is in 1999 gebou. Daar is 5 draaie na regs en 9 na links. Die langste pylvak is 876 m lank. Verlede jaar het Dani Pedrosa (Repsol Honda) die wedren gewen met Johann Zarco (Monster Yamaha Tech3) tweede en Marc Marquez (Repsol Honda) derde.

Sondag se wedren sal ook die laaste een wees in die roemryke loopbaan van Dani Pedrosa (Repsol Honda). Pedrosa het die wêreldkampioenskap drie keer gewen. In Valencia het Dani oorwinnings in 2007, 2009, 2012 asook 2017 behaal.

Cal Crutchlow (LCR Honda Castrol) sal hierdie naweek se wedren misloop nadat hy sy enkel gebreek het in Australië. Stefan Bradl sal in Cal se plek jaag.

Op die jongste punteleer loop Marquez met 101 punte voor.

1 Marc Marquez (Repsol Honda) 321
2 Andrea Dovizioso (Ducati) 220
3 Valentino Rossi (Movistar Yamaha) 195
4 Maverick Vinales (Movistar Yamaha) 193

Marc Marquez op ‘n voprige geleentheid. Foto: AP Photo/David Vincent

In die vervaardigers-afdeling het Honda reeds seker gemaak hulle is die kampioene van 2018.

1 Repsol Honda 427
2 Movistar Yamaha MotoGP 388
3 Ducati 364
4 Suzuki Ecstar 282
5 Alma Pramac Racing 235

In die Moto2-afdeling is Brad Binder derde op die punteleer.

1 Francesco Bagnaia (Kalex) 304
2 Miguel Oliveira (KTM) 272
3 Brad Binder (KTM) 201
4 Lorenzo Baldassarri (Kalex) 162

Die oefenrondes begin Vrydag en die kwalifisering word Saterdag afgehandel.

Die Moto3-wedren begin Sondag om 12:00 en die Moto2-wedren om 13:20. Die hoofwedren word om 15:00 afgehandel.

Meer inligting is hier beskikbaar.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Koos1 ·

Dis die langste renbaan ter wêreld, en met net onder 900 meter op die pylvlak wonder ek waar is die ander 4004 km van hierdie baan!!
LOL. MM sal julle asb die berig wysig anders moet hulle al vanmiddag wegspring om Sondag klaar te maak!

Mariné Lourens ·

Dagsê Koos1

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is nou gewysig.

Groete
Mariné
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.