Murray in pylvak van sy loopbaan

Groot-Brittanje se Andy Murray. (Foto: Noushad Thekkayil/NurPhoto via AFP)

Die 36-jarige Andy Murray het Maandag met die veel jonger Denis Shapovalov in die Dubai-tenniskampioenskap klaargespeel, maar hy reken dat hy amper gereed is om sy raket weg te bêre.

“My speeldae-uurglas is besig om leeg te loop, maar ek sal my beste gee in hierdie laaste paar maande op die baan,” het die Skot gesê.

Die voormalige wêreldnommereenspeler verloor deesdae meer as wat hy wen, maar hy erken dat hy steeds honger vir sukses is.

“Ek is steeds mal oor die spel en om deel te neem, maar dinge word beslis moeiliker soos wat ’n mens ouer word. Veral wanneer jy van fiksheid en krag praat.”

Die Shapovalov-oorwinning was sy 500ste sege op harde bane – ’n prestasie wat net Roger Federer, Rafael Nadal, André Agassi en Novak Djokovic al vermag het.

“Harde bane is vir my ’n goeie oppervlak om op te speel en 500 is inderdaad baie wedstryde. Ek is natuurlik trots daarop en dit is wonderlik dat ek dié mylpaal kon bereik voordat ek klaar is.”

Murray het ook verlede jaar slegs die negende speler geword om 200 wedstryde by ʼn Grand Slam-toernooi te wen toe hy Corentin Moutet met 6-2, 7-5 en 6-3 in die Amerikaanse Ope geklop het.

Fox Sports in Australië het ʼn jaar of twee gelede ’n lekker eksperiment gedoen om te bepaal wie die voorste speler in Djokovic, Nadal en Federer se afwesigheid sou wees.

Titels is aan spelers toegeken wat in ’n eindstryd teen een van die drie vasgeval het, óf wanneer hulle goed in ’n halfeindstryd gespeel het as die daaropvolgende eindstryd ’n Djokovic‑Nadal- of Federer‑Djokovic-affêre was.

En in dié skynwêreld sou Murray waarskynlik die septer geswaai het.

In die “Groot Drie” se afwesigheid kon die 36-jarige Skot 17 Grand Slam-titels ingeoes het, terwyl Switserland se Stan Wawrinka ook met meer titels sou gespog het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Fran ·

Nee wat, jy kan maar regtig gaan! Niemand gaan jou arrogansie mis nie!

George ·

Sal jou mis op die baan Andy, jy het baie mense moeilike tyd gegee! Goed gaan!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.