Visum-rompslomp sorg dat geveg deur mat val

Dricus du Plessis en Trevin Giles. Foto: Twitter.

Ai tog.

Dricus “Stillknocks” du Plessis se UFC-geveg teen die VSA se Trevin Giles het deur die mat geval nadat die Suid-Afrikaanse gemengdegevegskuns-ster nie betyds sy visum kon kry nie.

Du Plessis het vanoggend die nuus op sosiale media gedeel. Hoewel hy duidelik teleurgesteld is dat al sy voorbereiding vir die geveg weens die visum-rompslomp tevergeefs was, is hy steeds oorgehaal om sy beste in die UFC-hok te lewer.

Gelukkig is daar omtrent elke week tot die einde van April UFC-gevegte op die spyskaart en die moontlikheid is groot dat Du Plessis weer op kort kennisgewing nadergetrek sal word.

“Hopelik kan ons die visum-administrasie binne die volgende week of so uitsorteer. Ek is tans fikser as ooit vantevore en sal die kans met albei hande aangryp indien ek as plaasvervanger vir ’n geveg nadergeroep word,” het Du Plessis gesê.

“Dít kan dalk tot iets baie groter lei – veral as ek teen iemand hoog op die ranglys kan veg. Nou vir die volgende uitdaging.”

Du Plessis het ongelooflik hard in Pretoria vir sy geveg voorberei.

Dricus du Plessis ná een van sy oefensessies. Foto: Twitter.

Sy oefenmaats sonder hom as die hardste werker in die gimnasium uit – hy is letterlik daardie ou wat eerste opdaag net om weer laaste te loop.

“Dricus loop altyd oor van selfvertroue voor ’n geveg en hy word beter ná elke een,” het die belowende jong gemengdegevegskuns-atleet, Cameron Saaiman, gesê.

Volgens Saaiman spruit hierdie selfvertroue uit Du Plessis se vertroue in homself, sy span en sy voorbereidingswerk.

Hy het verlede jaar amok in sy Ultimate Fighting Championship-buiging teen Brasilië se Markus Perez gemaak toe hy die geveg in die eerste ronde op Dana White se Fight Island in Abu Dhabi gewen het.

Hoewel die meer ervare Perez sterk begin het, het Du Plessis vinnig sy voete gevind en tot die aanval oorgegaan. Een van sy opstoppers het die Brasiliaan góéd getref en die gevegbeampte het kort daarna die aksie stopgesit.

Dit was ’n verstommende oorwinning vir die man wat in Pretoria aan sy vaardighede slyp en hy het ná afloop van die geveg ook sy stem oor plaasmoorde dik gemaak.

Hoewel die Giles-geveg ongetwyfeld ’n teleurstelling is, het Du Plessis ’n blink toekoms wat op hom wag.

Roman Dolidze sal nou sy skoene in Las Vegas vol staan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

B-Man ·

Agnee, man! Wat ‘n vernedering vir ons binnelandse sake…. o, nee, wag. Hulle kan seker nie minder omgee vir ‘n Afrikaner wat sy hele land wil verteenwoordig op wêreldvlak nie. Skande.

Vrijburger ·

Ps. Visum word uitgereik deur die land waarheen hy moet reis, nie SA se binnelandse sake nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.