Nadal se seëvierende terugkeer

Rafael Nadal het sy terugkeerwedstryd gewen. (Foto: Paul Barrena/AFP)

Daar is weer ʼn glimlag op Rafael Nadal se gesig.

Die voormalige wêreldnommereenspeler het sy eerste wedstryd sedert Januarie gespeel en hy het hom gewen!

Nadal het vir Flavio Cobolli met 6-2 en 6-3 in die Barcelona-ope geklop en hy sal in die volgende ronde teen Australië se Alex de Minaur te staan kom.

Die wedstryd het al die bestanddele van ʼn klassieke Rafa-vertoning bevat: Aggressiewe houespel, flitse van briljantheid en gebalde vuis-feesvieringe.

ʼn Mens kon wel sien dat hy nog nie met sy afslaanwerk op alle suiers vuur nie en hy het later erken dat hy dinge nog rustig vat in dié afdeling van sy spel.

“Ek kon vir maande nie afslaan nie en hoewel ek baie opgewonde is om weer te speel, wil ek dinge nie oordoen nie. Ek moet na my lyf luister – soms voel dit of ek die bal teen volle krag kan slaan, ander kere weer nie,” het Nadal gesê.

“Dit was ʼn goeie begin. Ek dink wel nie ʼn mens kan van al jou bekommernisse in een dag ontslae raak nie; veral wat fisieke uitdagings betref. Maar in die geheel is ek baie tevrede – ek het gedoen wat ek moes.”

Hy erken dat die komende tweestryd teen De Minaur dalk nog ʼn bietjie bo sy vuurmaakplek kan wees.

“Ek weet nie mooi of ek met Alex se pas sal kan byhou nie, maar ek gaan beslis my bes probeer.”

Maar vir net meer as ʼn uur was Nadal weer die kleibaankoning. En die tenniswêreld het saam met Barcelona feesgevier.

Uitslae:

Tomas Etcheverry klop Nick Hardt met 7-5 en 6-2

Rafael Nadal klop Flavio Cobolli met 6-2 en 6-3

Brandon Nakashima klop Andrey Rublev met 6-4 en 7-6

Dusan Lajovic klop Diego Schwartzman met 6-1 en 6-2.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.