Nadal steeds onoorwonne

Rafael Nadal tydens die Australiaanse Ope (Foto: William West, AFP)

Die Spanjaard Rafael Nadal is steeds onoorwonne vanjaar nadat hy die ATP-toernooi in Acapulco, Mexiko, gewen het. Hy het in die toernooi onder andere die nuwe wêreld no. 1-speler, Daniil Medvedev, geklop.

Nadal se laaste nederlaag was op 5 Augustus verlede jaar teen die Suid-Afrikaner Lloyd Harris in Washington. Hy het sy tennisjaar daarna beëindig weens ʼn voetbesering.

Nadal het nie ʼn stel in die hele toernooi verloor nie en dit was ook die geval in die eindstryd toe hy die Brit Cameron Norrie met 6-4 en 6-4 oorrompel het.

Dit was die Spanjaard se vierde titel in Acapulco nadat hy ook in 2005, 2013 en 2020 die trofee omhoog gehou het.

In die Dubai Duty Free-toernooi het ʼn emosionele Rus Andrey Rublev die toernooi gewen. Hy het die Tsjeg Jiri Vesely se opmars gestuit en hom met 6-3 en 6-4 geklop.

Rublev het opslae gemaak toe hy ná sy halfeindstryd op die TV-kamera se lens geskryf het “No war please”, met verwysing na Rusland se inval in Oekraïne.

Vesely is no. 123 op die wêreldranglys. Dit maak van hom die laagste speler op die ranglys om in die toernooi se 30-jarige bestaan in die eindstryd te speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.