Nadal struikel oor Paul-hekkie in Parys

Rafael Nadal. Foto: Twitter.

Rafael Nadal het sy eerste mededingende wedstryd terug op die ATP-toer (én as ʼn pa) verloor toe Tommy Paul hom in die Parys-meesterstoernooi uitgeskakel het.

Die 36-jarige speler se veldtog om die hardebaan-silwerware in die Franse hoofstad omhoog te hou, is weer eens vroeg kortgeknip toe hy die kragmeting met 3-6, 7-6 en 6-1 verloor het.

Hoewel Nadal in geheel tevrede was met sy vertoning, het hy oudergewoonte ná die nederlaag hand in eie boesem gesteek.

“Ek kon die wedstryd in die tweede stel beklink het, maar ʼn baie swak pot het my beslis gekniehalter. ʼn Mens verdien nie om te wen as jy ʼn belangrike oomblik in ʼn kragmeting só sleg hanteer nie,” het die wenner van 22 Grand Slam-titels gesê.

Sy aandag verskuif nou na die ATP-eindtoernooi in Turyn.

“Ek is opgewonde om in Italië te speel, selfs al het dinge in die afgelope paar maande nie volgens plan verloop nie. Ek gaan my bes probeer en ek het eintlik niks om te verloor nie.”

Op sy beurt het Paul sy oorwinning as die beste vertoning van sy loopbaan beskryf.

“Ek was oorgehaal om goed te doen want dinge raak altyd interessant wanneer jy teen een van tennis se Groot Drie-spelers kragte meet. Vir eens was ek nie op my senuwees nie en ek het baie pret op die baan gehad,” het die Amerikaner gesê.

In ander wedstryde het Cameron Norrie en Daniil Medvedev ook die onderspit gedelf.

Uitslae:

Corentin Moutet klop Cameron Norrie met 6-3, 5-7 en 7-6

Tommy Paul klop Rafael Nadal met 3-6, 7-6 en 6-1

Pablo Carreno Busta klop Denis Shapovalov met 7-6, 2-6 en 6-4

Holger Rune klop Hubert Hurkacz met 7-5 en 6-1

Gilles Simon klop Taylor Fritz met 7-5, 5-7 en 6-4

Grigor Dimitrov klop Fabio Fognini met 6-0 en 7-5

Carlos Alcaraz klop Yoshihito Nishioka met 6-4 en 6-4

Felix Auger-Aliassime klop Mikael Ymer met 6-7, 6-4 en 7-6

Alex de Minaur klop Daniil Medvedev met 6-4, 2-6 en 7-5

Stefanos Tsitsipas klop Dan Evans met 6-3 en 6-4

Frances Tiafoe klop Jack Draper met 6-3 en 7-5

Komende bepalings:

Carlos Alcaraz teen Grigor Dimitrov

Alex de Minaur teen Frances Tiafoe

Holger Rune teen Andrey Rublev

Novak Djokovic teen Karen Khachanov

Stefanos Tsitsipas teen Corentin Moutet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.