Nadal voer onderhoude met Federer, Murray

Rafael Nadal en Roger Federer gedurende hul Instagram Live-sessie. Foto: Twitter.

Rafael Nadal het gisteraand op Instagram Live onderhoude met mede-tennissterre soos Andy Murray en Roger Federer gevoer.

Ná ’n stadige begin – waar hy sy onbeholpenheid met moderne tegnologie erken het en Murray hom genadeloos daaroor geterg het – het die Spanjaard uiteindelik sy voete gevind en lekker met die spelers begin gesels.

“Ek het aanvanklik vir die eerste ses weke baie goed gevoel, maar daarna het ek vir ’n ruk gesukkel. Gelukkig voel ek nou weer baie goed en die herstelproses is op koers,” het die 38-jarige Federer gesê wat in Februarie ’n knie-operasie ondergaan het.

“Die goeie nuus is dat ek nou baie tyd het om ordentlik van die besering te herstel; daar is geen haas nie. Ek slaan bietjie die bal teen die muur en doen my rehabilitasiewerk.”

Volgens Federer is ’n roetine baie belangrik vir hom en hy probeer om sy kinders die erns van selfdissipline gedurende die afsonderingstydperk te leer.

“Ons is sterk op roetines – soos wanneer om skool te gaan en wanneer om te eet en te gaan slaap. Die moeilike gedeelte is dat ons nou nie interaksie met ander mense – soos hul ouma of vriende – kan hê nie.”

Nadal mis tennis ongelooflik. Hy het nie ’n tennisbaan by sy huis in Spanje nie en het laas gedurende die India Wells-toernooi gespeel. (AP Photo/Dita Alangkara)

Daarna het die twee vriende mekaar lekker begin terg en veral Federer het Nadal se been begin trek omdat hy as ’n linkshandige tennis speel, terwyl hy eintlik regshandig is.

“Dis maar net ’n mite dat ek regs kan speel,” het Nadal geskerm. “Ek speel basketbal as ’n regshandige en basies enige ander sportsoort, behalwe tennis en sokker.”

Nadal se aandag het daarna na Murray verskuif. Die Britse tennisster was in ’n vrolike bui terwyl hy oor sy rehabilitasiewerk ná sy heupbesering en sy kinders se onderrig gepraat het.

“Ek oefen baie, maar ek het geen tennisballe in die afgelope vyf weke geslaan nie. Ek voel wel baie goed en kan nie wag dat ons weer toegelaat word om tennis te speel nie,” het Murray gesê.

Brittanje se Andy Murray. Argieffoto.

“Verder probeer ek net daagliks om my kinders besig te hou. Dis nogal ’n moeilike takie, maar dit is lekker om so baie tyd saam met my gesin deur te bring. Dit is iets waaraan mens nie gewoond is nie.

“As ouers is dit deksels ingewikkeld om vir jou kinders klas te gee; mens waardeer die werk wat onnies verrig sommer baie meer, want kinders wil nie altyd luister na wat hul ouers te sê het nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.