Naelbyteinde in Epic verwag

Fabian Rabensteiner en Wout Alleman het eerste geëindig tydens die sesde skof van die Cape Epic. (Foto: Twitter/ Cape Epic)

Twee buitelanders ding nou mee om die gesogte Cape Epic-beker nadat Fabian Rabensteiner (Duitsland) en Wout Alleman (België) van Wilier-Pirelli Saterdag se sesde skof van dié bergfietstoer in ʼn tyd van 3:16.04 gewen het.

Die skof oor 76 km het in Stellenbosch begin en ook daar geëindig met die ryers wat 2 700 m moes klim.

Dit is ʼn teleurstelling vir die Suid-Afrikaners Pieter du Toit en Marco Joubert van Imbuko, wat Vrydag eerste in die vyfde skof geëindig het.

Speed Company Racing se Lukas Bam en Georg Egger, albei van Duitsland, was Saterdag tweede en het die voorsprong tussen hulle en die geeltrui-draers van Canyon Northwave MTB, Andreas Seewald van Duitsland en Martin Stošek van Tsjeggo-Slowakye, verklein. Dié span was vyfde in Saterdag se skof.

Baum en Egger begin Sondag se laaste skof net 2:45 agter die voorlopers.

Wilier-Pirelli het van die begin af aangeval en by die eerste klim was hulle kop aan kop met Speed Company Racing en Toyota-NinetyOne-Specialized (Suid-Afrika se Matthew Beers en Christopher Blevins van die VSA).

Beers en Blevins (wat sesde geëindig het) het egter teruggesak, wat Wilier-Pirelli in staat gestel het om ook van Speed Company Racing af weg te breek.

Canyon Northwave MTB het gesukkel om by te hou aangesien Seewald met ʼn ribbesering sukkel.

By die 40 km-merk het Wilier-Pirelli hul voorsprong vergroot en die laaste 30 km sonder moeite voltooi.

“Dit was ʼn baie goeie dag,” het Rabensteiner op die Cape Epic se webwerf gesê.

“Ons het vanoggend goed gevoel en het besluit om by die eerste klim aan te val. Ons was ʼn rukkie in ʼn bondel en dit het ons gehelp om ons energie te spaar,” het hy gesê.

“Speed Company Racing het by die tweede waterpunt aangeval, maar ons het sterk gevoel en ons neuse voor gekry. Van daar oomblik af het ons nie weer teruggekyk nie.” Hy sê van die ses Cape Epic-toere wat hy reeds voltooi het, was dié skof die beste nog.

Alleman het gesê dat Stellenbosch se bergpaaie hulle gepas het.

“Ons het nog nie bereik wat ons beplan het nie, maar ons het die skof gewen. Sondag is nog ʼn kans om ons vaardighede te wys.”

Wat die vroue betref het Sofia Gomez Villafane (Argentinië) en Haley Batten (VSA) van NinetyOne-Songo-Specialized eerste geëindig.

Hulle is algeheel met meer as 16 minute voor Suid-Afrika se Faces Rola (Candice Lille en Mariske Strauss).

Die voorlopers het tydens die skof gereeld plekke geruil, maar NinetyOne-songo-Specialized het met 10 km oor die voorsprong geneem en voor gebly.

Sondag se sewende en laaste skof strek oor 68 km en die jaers sal 2 000 m moet klim. Dit begin in Stellenbosch met die eindpunt by die Val de Vie-wynlandgoed. Die roete sluit wynplase soos Rustenberg, Morgenhof, Mauratie en Babylonstoren in.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.