Niemand weet hoe haastig Mick werklik is

Mick Schumacher. Foto: Twitter.

’n Mens kan Mick Schumacher se Haas-renmotor kwalik met Lewis Hamilton se Mercedes vergelyk, terwyl sy omstrede en sukkelende spanmaat Nikita Mazepin dit ook moeilik maak om sy vertonings doeltreffend te beoordeel.

Só sê die voormalige F1-wêreldkampioen Jacques Villeneuve.

“Ek is egter baie bly om te sien dat Mick goed agter die stuur vertoon. Hy sit gereeld vir sy spanmaat ore aan, maar hy maak ook ’n paar foute,” het Villeneuve gesê.

“Maar die foute is egter te verwagte – hy is ’n F1-groentjie en sy motor is moeilik om te bestuur.”

Volgens Villeneuve is Haas ’n goeie wegspringplek vir die talentvolle Schumacher, maar hy het terselfdertyd gewaarsku dat die jong renjaer nie te lank daar moet bly nie en dat hy ná die afloop van die huidige seisoen vir hom ’n ander span moet soek.

Juis omdat sy motor so sukkel en sy vertonings eintlik net met dié van Mazepin vergelyk kan word.

Iemand soos Bernie Ecclestone het ook al vantevore gesê dat Haas nie die beste span vir Schumacher is nie.

“Ek kry hom ’n bietjie jammer. Hy beskik oor goeie eienskappe wat ’n aanwins vir F1 is en hy het wonderlik in die F2-afdeling presteer, maar ek weet nie of hy veel by sy huidige span kan leer nie,” het die 90-jarige Ecclestone gesê.

Die volgende wedren spring Sondag in Azerbeidjan weg. Red Bull Racing se Max Verstappen is tans die voorloper in die reeks.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Moedeloos ·

Almal moet onder begin en stadig maar seker sal ande spanne hom opneem. Gee net kans en hy moet net geduldig wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.