Nog Kampioenskap-glorie wink vir Tatjana

Tatjana Schoenmaker is op koers na sukses in haar voorkeuritem. (Foto: Manan Vatsyayana/AFP)

Suid-Afrika se Tatjana Schoenmaker is op koers vir verdere podiumsukses by die Wêreldkampioenskap in Japan.

Die 26-jarige swemmer se tyd van 2:21.31 in die semi-finaallopie van die 200 m-borsslagitem het toegesien dat sy die vinnigste kwalifiserende tyd vir die eindstryd opgestel het.

Die Olimpiese kampioen en voormalige wêreldrekordhouer het water in die oë van Lilly King geskop. Die Amerikaanse verdedigende wêreldkampioen moes uiteindelik met ʼn tweede plek en ʼn tyd van 2:22.68 in hul semi-finaallopie tevrede wees.

Schoenmaker het Dinsdag ordentlik litte vir die 200 m-finaal losgemaak toe sy die silwermedalje in die 100 m-borsslagitem losgeswem het.

“Ek oefen nie vir die 100 m nie; ek oefen vir die 200 m. Ek is eintlik baie dankbaar vir my vinnige 100 m-tyd (1:05.84), want dit help baie met die 200 m. Tog gaan dit ʼn splinternuwe uitdaging wees,” het sy ná haar medaljesukses gesê.

Schoenmaker swem vandag om 13:49 in die 200 m-borsslageindstryd. Die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

Swemmers wat vir die eindstryd van die 200 m-borsslagitem gekwalifiseer het:

  1. Tatjana Schoenmaker (Suid-Afrika): 2:21.31
  2. Tes Schouten (Nederland): 2:21.71
  3. Kate Douglass (VSA): 2:21.99
  4. Lilly King (VSA): 2:22.68
  5. Thea Blomsterberg (Denemarke): 2:23.19
  6. Abbey Harkin (Australië: 2:23.65
  7. Kotryna Teterevkova (Litaue): 2:24.12
  8. Kelsey Lauren Wog (Kanada): 2:24.16

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.