Nóg ’n rekord vir Rafa

Rafael Nadal. Foto: Twitter.

Daar is minder tennis in 2020 as in ander jare gespeel, maar Rafael Nadal verbeter steeds die een rekord na die ander. Hy het onlangs sy 13de titel op Roland Garros gewen, terwyl hy ’n rukkie daarna in sy 1 000ste wedstryd op die tennisbaan koning gekraai het.

Nou het die 34-jarige Spanjaard ook Jimmy Connors se rekord verbeter vir die meeste agtereenvolgende weke onder die wêreld se tien top-spelers.

Die Amerikaner was vir 789 weke deel van hierdie elite groep, maar Nadal het dit nou ’n trappie verder geneem: Vir ’n verstommende 790 weke was hy onder die wêreld se tien beste spelers.

En as sy spelpeil vir die volgende paar jaar hou en hy die beseringspook kan vryspring, kan hierdie rekord nog vir jare agter sy naam staan.

Nadal het in 2005 die eerste keer sy top 10-deurbraak gemaak en hy het stelselmatig vir Pete Sampras, Ivan Lendl, Roger Federer en nou vir Connors verbygesteek.

“Dit beteken eintlik net dat ek ’n ou man is,” het hy geskerts nadat hy sy 1 000ste wedstryd teen Feliciano Lopez gewen het.

“Maar dit beteken ook dat ek oor ’n lang tydperk goeie tennis gespeel het. En dit is iets waarvoor ek baie dankbaar is; dit is ’n spesiale oomblik.”

Spelers wat die langste onder die wêreld se tien top-spelers getel het, is:

Rafael Nadal: 790 weke

Jimmy Connors: 789 weke

Roger Federer: 734 weke

Ivan Lendl: 619 weke

Pete Sampras: 565 weke

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

SomeOne ·

om net meer as 15jaar onder die top 10 te wees, moet gedoen word

Natasha ·

Go Rafa!!!! Jy is ‘n yster en dis ‘n groot voorreg en plesier om na jou wedstryde te kyk!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.