Novak deur na Tel Aviv-kwarteindstryd

Novak Djokovic. Foto: Twitter.

Novak Djokovic het sy eerste wedstryd in meer as 15 jaar in Israel op ʼn drafstap gewen toe hy Pablo Andujar met 6-0 en 6-3 geklop het.

Die voormalige wêreldnommereenspeler het sodoende vir die kwarteindstryd van die Watergen-ope in Tel Aviv gekwalifiseer.

“Ek het ʼn uitstekende aanloop tot die wedstryd gehad en sewe potte op ʼn streep gewen,” het ʼn tevrede Djokovic ná die tyd gesê.

Tog het die Spaanse speler nie gaan lê nie en die agste pot van die wedstryd was ʼn uitmergelende storie wat vir 20 minute aangehou het.

“Dit was een van die langste potte waarin ek nóg gespeel het en ek het al in baie wedstryde gespeel. Pablo verdien egter lof vir die wyse waarop hy vir elke punt geveg het.”

Oudergewoonte het die Serwiese ster net te veel skietgoed vir sy teenstander gehad en hy het onder meer agt kishoue afgevuur.

“Ek hou van hierdie baan – die toeskouers geniet hul tennis en ek is dankbaar om hier voor julle te speel.”

Die 35-jarige speler het ook vroeër aangedui dat hy nog nie van plan is om sy raket weg te bêre nie.

“Ek wil nog speel, selfs al het ek al baie van my doelwitte bereik. Ek het steeds ongekende passie vir die sport en ek is honger vir sukses.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.