Novak troef goeie vriend in Israel

Novak Djokovic. Foto: Glyn Kirk/AFP.

Novak Djokovic is nog op koers in Tel Aviv nadat hy Vasek Pospisil met 7-6 en 6-3 in die kwarteindstryd van die Watergen-ope getroef het.

Anders as in sy vorige wedstryd teen Pablo Andujar moes die voormalige wêreldnommereenspeler diep delf om die Kanadees se kragtige houespel te neutraliseer.

“Ek dink die gehalte van die tennis was baie hoog – veral die spel wat ons teen die einde van die eerste stel opgedis het,” het Djokovic ná afloop van die wedstryd gesê.

Volgens die Serwiër kom hy baie goed met die 32-jarige Kanadese speler oor die weg; ʼn toedrag van sake wat soms vir opwindende tweestryde sorg.

“Ek voel baie positief oor hierdie oorwinning. Vasek is een van my beste vriende op die ATP-toer en ons ken mekaar al vir jare. Dit is nooit maklik om teen iemand te speel vir wie jy soveel respek het nie, maar ons is albei professionele spelers en ons wou ewe graag die wedstryd wen.”

Djokovic se inentingstatus beteken dat hy vanjaar reeds ʼn hele paar groot toernooie misgeloop het en hy is tans 15de op die ATP-ranglys.

Indien hy met die louere in Israel sou wegstap, sal dit sy derde titel van die jaar wees nadat hy vroeër in Rome en op Wimbledon koning gekraai het.

Hy speel later vandag teen die Rus Roman Safiullin in een van die halfeindstryde.

Uitslae:

Roman Safiullin klop Arthur Rinderknech met 6-4 en 6-1

Novak Djokovic klop Vasek Pospisil met 7-6 en 6-3

Constant Lestienne klop Maxime Cressy met 6-7, 6-3 en 7-6.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.