Olimpiese roeiers ‘zoom’ steeds voort

SA se Olimpiese roeigroep oefen nou almal vanaf hul huise. Foto: Reg Caldecott.

Dit lyk soos ’n gewone oefensessie vir die Suid-Afrikaanse Olimpiese roeigroep: Hulle gesels vooraf eers ’n bietjie met mekaar en hul afrigter sê wat hy van elkeen verwag.

Kort voor lank begin hulle die sweet van hul voorkoppe af te vee soos wat hul hartklop-tempo verhoog.

Maar in plaas daarvan dat hulle saam oefen, of iewers op ’n dam ritmies deur die water klief, is elke roeier in sy eie huis op ’n Concept 2-roeimasjien.

Die wonder van moderne tegnologie sorg dat hulle deur middel van die Zoom-app steeds in verbinding met mekaar is. ’n App wat sorg dat die espirit de corps-vlam onder die roeiers nog hoog brand, selfs in die afsonderingstydperk.

En, volgens hul afrigter, Roger Barrow, help dit ook dat hul daaglikse roetine nie deur die Covid-19-pandemie deurmekaar gekrap word nie.

Maar dit het ’n bietjie fyn beplanning geverg; al die toerusting moes byvoorbeeld individueel by elke roeier se huis afgelewer word. Maar dit was beslis die moeite werd.

Vir Barrow is spanwerk en sukses so te sê die vinkel en koljander van roeiwerk: Die een kan nie sonder die ander nie.

“Ons het probeer om ’n virtuele omgewing te skep waar dokters, fisioterapeute, sportwetenskaplikes en die roeiers steeds met mekaar kan kommunikeer. Die idee is om soos altyd te probeer aangaan. Enige ontwrigting het beslis ’n nadelige effek op ’n atleet se motivering,” het Barrow gesê.

Volgens Barrow is dit maklik om jou lus vir die sport in hierdie onsekere tye te verloor; veral omdat die meeste kompetisies afgelas is.

“Een van die positiewe dinge is dat ons darem nou meer tyd het om data doeltreffend te ontleed. Die doel is tans om op spesifieke areas van ’n roeier se vertoning te konsentreer en dan, indien nodig, die nodige verstellings aan te bring.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.