‘Ons is baie lief vir ons tuisskare’

Karla Pretorius (links) en Shadine van der Merwe (regs) in aksie tydens die onlangse vierhoekige netbalreeks in Kaapstad. Foto: Twitter.

Die vierhoekige netbalreeks tussen Suid-Afrika, Australië, Engeland en Nieu-Seeland is iets van die verlede met die Aussies wat hul titel gister suksesvol in Kaapstad verdedig het.

Die Australiërs het die Kiwi’s met 56 – 50 in die gouemedaljewedstryd geklop, terwyl Engeland te sterk vir die Proteas in die uitspeelstryd om die bronsmedalje was.

Die Rose het die wedstryd met 49 – 42 gewen nadat die twee spanne vroeër in die toernooi met 46 elk gelykop gespeel het.

Hoewel die Suid-Afrikaners die reekshoutlepel in ontvangs geneem het, meen Shadine van der Merwe dat daar ook heelwat positiewe dinge op die baan gebeur het.

“Dit was ʼn bitter lekker ervaring en dit is altyd goed om teen die voorste netballande ter wêreld kragte te meet,” het die Protea-ster gesê.

Sy het veral waardering vir die span se entoesiastiese ondersteuners wat elke liewe doel luidkeels toegejuig het.

“Ons is baie lief vir ons tuisskare en die ander spanne het ook gesê dat ons ongelooflike ondersteuning geniet. As ʼn span is ons dankbaar dat ons so ʼn  loud crowd in ons hoek het en ons waardeer hul ondersteuning.”

Dan was dit ook lekker om oudstaatmakers soos Karla Pretorius en Lenize Potgieter weer op die baan te sien en Van der Merwe erken dat hul teenwoordigheid  ʼn groot verskil maak.

Tog sal daar altyd iets wees om aan te werk; die Proteas sal immers met die toplande moet klaarspeel as hulle daarvan droom om met die Wêreldbeker-louere weg te stap.

En die volgende paar maande in aanloop tot die internasionale skouspel gaan van kardinale belang wees.

“Die spelers sal voldoende speeltyd by hul onderskeie klubs moet kry om baanfiks te word en te bly.”

Van der Merwe is juis wees binnekort op pad terug na Engeland waar sy vir die Manchester Thunder in die Vitality-netbalreeks speel.

“Ons het so twee weke saam met die span voordat die ligawedstryde in alle erns op 11 Februarie begin.”

Uitslae van die vierhoekige reeks:

Engeland 49 – 42 Suid-Afrika (wedstryd om derde en vierde plekke)

Australië 56 – 50 Nieu-Seeland (gouemedaljewedstryd)

Finale puntestand:

  1. Australië (goud)
  2. Nieu-Seeland (silwer)
  3. Engeland (brons)
  4. Suid-Afrika
  • Die Wêreldbeker-netbaltoernooi word van 28 Julie tot 6 Augustus in Kaapstad beslis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.