Perez kan Azerbeidjan-titel verdedig

Max Verstappen en Sergio Perez. Foto: Andrej Isakovic/AFP.

Sergio “Checo” Perez lewer deesdae witwarm vertonings agter die stuur van sy Red Bull-renmotor en ’n hele paar ontleders meen dat hy goed genoeg is om die wêreldtitel te wen.

Met sy 110 punte op die jaerspunteleer is hy net ses punte agter Ferrari se Charles Leclerc, terwyl daar ’n buffer van 15 punte tussen hom en spanmaat Max Verstappen is; die algehele voorloper.

Benewens sy onlangse triomf in Monaco se strate sien hy waarskynlik ook uit na Sondag se Azerbeidjan-wedren: Hy het immers verlede jaar eerste oor die eindstreep in Bakoe gejaag.

Christian Horner – Red Bull-spanbaas – het al vantevore gesê dat die span se belange eerste kom.

“Ons praat nie van Sergio Perez Racing of Max Verstappen Racing nie; dit is Red Bull Racing. Die renjaers werk vir die span en dit is baie belangrik dat hulle besef dat die span se belange groter as hul eie is,” het Horner gesê.

Iemand soos Valtteri Bottas wens seker dat Toto Wolff só iets in sy Mercedes-dae gesê het – die vlieënde Fin het al vantevore oor Lewis Hamilton se voorkeurbehandeling gekla.

Bottas moes hom verlede jaar noodgedwonge aan die Katarese Grand Prix onttrek nadat hy probleme met een van sy voorbande ondervind het, terwyl Hamilton sonder veel moeite nóg ’n eerste plek ingeoes het.

Bottas het later in die Finse media gesê dat daar ’n verskil in die manier was waarop die twee Mercedes-renmotors opgestel is.

“Ek het intussen die rede (vir die bandprobleme) uitgevind, maar ek mag nie enige inligting verskaf nie. Maar my motor is nie meer heeltemal dieselfde as wat dit was nie, terwyl dit ook nie dieselfde as Lewis s’n is nie. Daar is klein verskille tussen die twee motors,” het Bottas gesê.

Red Bull se Christian Horner. Foto: Andrej Isakovic/AFP.

Volgens Horner is Perez se kans net so goed soos dié van Verstappen om vanjaar se wêreldtitel te wen.

“Daar is nie ’n groot verskil tussen hulle nie. Sake is vanjaar baie meer gelyk tussen Max en Sergio.”

Maar Helmut Marko meen dat Verstappen steeds die septer by Red Bull swaai.

“’n Mens vergeet egter dat Max twee keer vanjaar nie ’n wedren kon voltooi nie. Indien hy al sy beskikbare punte in daardie wedrenne verdien het, sou die punteverskil tussen hom en Sergio baie groter gewees het,” het die 79-jarige oudrenjaer gesê.

“Checo het ’n wonderlike aanloop tot die seisoen, maar wanneer daar oor suiwer spoed gepraat word, is Max gewoonlik die vinniger een.”

Die Azerbeidjan-wedren begin Sondag om 13:00 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

piet ·

As hulle nie vir Perez opdrag gegee het dat hy Verstappen moet laat verbygaan 2 wedrenne gelede nie sou hy nou net 1 punt agter hom gewees het. Ek dink hy’s beter as Verstappen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.