Perez wil die pap dik aanmaak

Sergio Pérez vier ’n oorwinning. Foto: Natalia Kolesnikova/AFP.

Sergio Perez het die 2022-seisoen in die derde plek op die jaerspunteleer afgesluit; 149 punte agter sy spanmaat Max Verstappen.

Tog is die Mexikaanse renjaer tevrede met sy vertoning en hy meen hy dat hy teen die einde van die seisoen beter as ooit agter die stuur van sy Red Bull vertoon het.

In die laaste ses wedrenne het hy onderskeidelik ʼn eerste, tweede en twee derde plek behaal. By enige ander span sou hierdie prestasies waarskynlik van hom die toprenjaer gemaak het, maar Verstappen was onverbeterlik – soos wat sy spul oorwinnings deur die loop van die jaar getuig.

“Ek dink alle F1-renjaers werk gereeld daaraan om nuwe uitdagings baas te raak. Ek voel egter dat ek tans op my beste is en ek sal alles in die stryd werp om die nuwe seisoen op ʼn hoë noot te begin,” het die 32-jarige Perez gesê.

Soms het hy ook lekker koppe met Verstappen gestamp.

Die Nederlandse wêreldkampioen het tydens die Brasiliaanse Grand Prix geweier om vir sy spanmaat plek te maak sodat hy meer punte kon verdien. Perez was juis toe in ʼn kwaai tweestryd met Ferrari se Charles Leclerc op die jaerspunteleer gewikkel en ʼn bietjie meer punte sou sy veldtog om die seisoen in die tweede plek af te sluit ʼn welkome hupstoot gegee het.

“Dit wys jou net wie hy eintlik is,” het ʼn ontstoke Perez gekla.

Hy het egter bygevoeg dat hy self by tye net nie goed genoeg was nie.

“Ek het ʼn ook ʼn paar swak wedrenne gehad wat beteken dat ek nie meer in aanmerking vir die kampioenskaptitel was nie; dus is bestendigheid iets waaraan ek hard moet werk.”

Die eerste wedren van die seisoen vind op 5 Maart in Bahrein plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Duck ·

En hy is die een wat laasjaar gemoan het daar is te veel naweke wat hy moet “werk” en hy nie tyd kry vir sy familie nie. Nou nie juis n fan van hom of sy windgat spanmaatjie nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.