Pieter pronk in swembad

Suid-Afrika se Pieter Coetzé het ’n goeie vertoning in die halfeindstryd van die 100 m-rugslagitem in Doha gelewer. (Foto: Manan Vatsyayana/AFP)

Suid-Afrika se Pieter Coetzé is beslis besig om sy vere reg te skud vir ʼn Olimpiese goud later vanjaar in die swembad.

Die 19-jarige Pretorianer het vir vanaand se eindronde van die 100 m-rugslagitem in die Wêreldkampioenskap in Doha gekwalifiseer nadat hy sy halfeindstryd in ʼn tyd van 53.07 sekondes voltooi het.

Dit was die tweede vinnigste kwalifiserende tyd ná Hunter Armstrong van die VSA se poging van 53.04 sekondes.

“Ek voel goed en ek is baie tevrede om weer terug in die eindstryd te wees,” het Coetzé gesê.

Die jong swemster meen dat hy nie te veel aan dinge in aanloop tot die goue medalje- stryd wil karring nie; hy wil net op sy sterk punte konsentreer.

Coetzé spog reeds met ʼn indrukwekkende getuigskrif op die internasionale verhoog.

Hy het onder meer goud by die Junior Wêreldkampioenskap gesmaak en hy het ook by die Statebondspele in Birmingham beïndruk waar hy veral met sy merkwaardige eindpogings geskitter het.

Die kersie op die koek in Birmingham was natuurlik sy briljante vertoning in die 100 m-rugslagitem toe hy met alle mag vorentoe gestrek het om die goue medalje voor Brodie Williams se neus weg te raap.

In die 200 m-rugslagitem het hy vriend en vyand verras om van ’n sesde plek na die brons medalje- wenner oor die finale 50 m te vorder.

Hy het kort ná sy stewige Statebond-vertonings gesê dat hy Olimpiese goud in visier het. En hy is beslis nog op koers om dié droom te verwesenlik.

  • Die rugslag-eindronde begin vanaand om 18:59 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.