Kyk: Coetzé se merkwaardige eindpoging

Pieter Coetzé spog met sy goue medalje in Birmingham. Foto: Andy Buchanan/AFP.

Suid-Afrika is nog ’n goue medalje ryker nadat Pieter Coetzé die eindronde van die 100 m-rugslagitem gewen het.

Die 18-jarige swemmer moes ’n fel aanslag van Engeland se Brodie Williams afweer en dit het in ’n stadium gelyk asof die Engelsman met die louere sou wegswem, maar Coetzé het nie moed verloor nie en sy uitgestrekte hand het eerste die muur getref.

Hy het die item in ’n tyd van 53,78 sekondes gewen, terwyl Williams (53,91 sekondes) met die silwer medalje tevrede moes wees.

Net 0,13 sekondes het die twee swemmers geskei. En om vir Jak de Priester effens verkeerdelik aan te haal – daar is inderdaad ’n fyn lyn tussen ’n eerste plek en ’n tweede plek.

Dit is egter baie lekker wanneer ’n Suid-Afrikaner op die groot verhoog wen!

Vroeër het Lara van Niekerk Suid-Afrika se eerste goue medalje gewen toe sy die 50 m-borsslagitem in ’n nuwe Statebondrekordtyd gewen het.

Uitslae:

  1. Pieter Coetzé 53,78 sekondes
  2. Brodie Williams 53,91 sekondes
  3. Bradley Woodward 54,06 sekondes
  4. Andrew Jeffcoat 54,13 sekondes
  5. Luke Greenbank 54,29 sekondes
  6. Mitchell Larkin 54,30 sekondes
  7. Srihari Nataraj 54,31 sekondes
  8. Joshua Edwards-Smith 54,63 sekondes.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.