Proteas lewer topvertonings in Engeland

Shadine van der Merwe in aksie op die netbalbaan. Foto: Verskaf.

Soos dinge nou aangaan sal Engeland se netbalbase eersdaags ’n paar bonustjeks aan die Suid-Afrikaanse spelers in hul spanne moet uitreik; hulle verdien dit immers.

Shadine van der Merwe (Manchester Thunder) en Phumza Maweni (Bath) is ná die jongste Vitality-reekskragmetings met speler van die wedstryd-toekennings beloon.

Van der Merwe was ’n doring op verdediging en sy het die Leeds Rhinos omtrent laat bontstaan.

Die 29-jarige Protea-speler het onder meer die bal vyf keer onderskep en sy vuur beslis weer op alle suiers nadat ’n knieoperasie haar geruime tyd langs die baan gehou het.

Met die Statebondspele om die draai sal Van der Merwe se ervaring en talent van onskatbare waarde wees.

“Ek is ongelooflik opgewonde om my land op die groot verhoog te verteenwoordig; ’n Mens kan amper nie glo dat die internasionale skouspel net ’n paar maande weg is nie,” het sy gesê.

Volgens die talentvolle verdedigende vleuel (VV) moet die Protea-aanslag nie onderskat word nie.

“Ons word gereeld as die buiteperd-span beskou, maar ons kan tot die laaste minuut van ’n wedstryd bly veg. Daar word tans oefenkampe in Suid-Afrika gehou en dit is goed as die spelers gereeld byeenkom om hulle vir die Spele voor te berei.”

Dan het Maweni ook ’n barshou vir Bath teen Loughborough Lightning gespeel: Om as die speler van die wedstryd aangewys te word wanneer jou span verloor, is ’n baie goeie prestasie.

Ine-Marí Venter, wat vir die Saracens Mavericks speel, is tans vir die vierde meeste doele (273) in die reeks verantwoordelik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.