Rafa en Roger wens Messi geluk

Lionel Messi spog met die silwerware. Foto: Twitter.

Argentinië het gisteraand vir Frankryk in ʼn briljante Wêreldbeker-sokkereindstryd geklop. En voor in die koor was ongetwyfeld Lionel Messi; die Suid-Amerikaners se inspirerende kaptein wat ʼn paar keer die agterkant van die doelnet gevind het.

Sportsterre wêreldwyd het die 35-jarige sokkerghoeroe met sy puik prestasie gelukgewens. Messi het immers die toekenning as die beste speler by die sokkerskouspel ontvang, terwyl hy ook aangedui het dat sy skitterende internasionale loopbaan nog nie iets van die verlede is nie.

“Die gordyn is inderdaad besig om op my loopbaan te sak, maar ek wil eers nog ʼn paar wedstryde as die wêreldkampioen speel,” het hy gesê.

Nou het Roger Federer hulde aan Messi en sy Argentynse spanmaats gebring.

“Dit is ʼn ware sprokiesverhaal, Argentinië! Jy en Lionel Messi het al keer op keer sportgrootheid herdefinieer. Dit is ʼn voorreg om jou dop te hou; baie geluk Leo,” het die Switserse tennislegende op sosiale media geskryf.

Op sy beurt het Rafael Nadal ook die Argentynse sokkerspan gelukgewens, terwyl Andy Murray ook Messi se lof saam met Federer besing het.

“Is Messi dalk die beste atleet van alle tye? Vergeet van sokker, wat ʼn mens,” het die Britse speler getwiet.

Nodeloos om te sê was Argentynse sterre soos Diego Schwartzman en Juan Martin del Potro baie in hul skik met hul nasionale sokkerspan se vertoning.

Die twee spelers het trots foto’s van die span op sosiale media gedeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.