Rafa toets positief vir Covid

Rafael Nadal het positief vir Covid-19 getoets. Foto: Guiseppe Cacace/AFP.

Skaars ’n paar dae nadat hy sy terugkeer van ’n lastige voetbesering gemaak het, het Rafael Nadal positief vir Covid-19 getoets.

Die 35-jarige Spanjaard, wat onlangs by vertoonwedstryde in Abu Dhabi in aksie was, het vandag op Twitter bevestig dat hy met sy terugkeer na Spanje positief vir die virus getoets het.

“Daar is tye wat ek glad nie lekker voel nie, maar ek glo dat ek stelselmatig beter sal word.  Ek isoleer tans by die huis en het die mense met wie ek in kontak was in kennis gestel,” het die Grand Slam-wenner op Twitter gesê.

Volgens Nadal is aanpasbaarheid die wagwoord in die Covid-19-era en hy sal sy ondersteuners op hoogte van sy toekomsplanne hou.

Hy sou binnekort na Australië gevlieg het om aan ’n ATP250-toernooi deel te neem wat as voorbereiding vir die Australiese Ope in Melbourne sou dien.

Die wêreldno. 6-speler het vantevore gesê dat hy ten gunste van die entstof is.

“Die enigste manier om uit hierdie Covid-19-nagmerrie te ontsnap is die entstof en dit is ons verantwoordelikheid om dit te aanvaar,” het Nadal destyds gesê nadat sy oefenmaat, Daniil Medvedev, positief vir die virus getoets het.

Die Spanjaard het vroeër vir ’n hele ruk met sy besering gesukkel en hy het onder meer die Olimpiese Spele en Amerikaanse Ope misgeloop.

Sy laaste wedstryd was in Augustus toe hy teen Suid-Afrika se Lloyd Harris by die Citi-Ope in Washington vasgeval het.

Nodeloos om te sê, die Franse Ope sal weer sy hoofdoelwit in die nuwe jaar wees.

Die “Koning van Klei” was vanjaar goed op koers om sy 14de titel in Parys te wen, maar hy is deur ’n veglustige Novak Djokovic in die halfeindstryd geklop.

“Ek brand om in 2022 weer die Franse Ope my toernooi te maak,” het hy vroeër in ’n onderhoud gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.