‘Rafa, verduidelik asseblief’

Sergiy Stakhovsky: Van die tennisbaan na die voorste linies. Foto: AFP.

Sergiy Stakhovsky – ’n voormalige Oekraïense tennisspeler – het in ’n sterkbewoorde Twitter-inskrywing vir Rafael Nadal oor sy Wimbledon-kommentaar aangevat.

Maroela Media het vroeër berig dat Russiese en Belarussiese spelers nie toegelaat sal word om by dié topgrasbaan-toernooi af te slaan nie.

Die Spaanse tennisster het egter die besluit bevraagteken en onder meer gesê dat die spelers – onder wie Daniil Medvedev en Victoria Azarenka – niks met die Rusland/Oekraïne-konflik uit te waai het nie.

“Ek dink die besluit is baie onregverdig jeens my Russiese kollegas,” het Nadal gesê. “Die oorlog is nie hulle skuld nie. Ek kry hulle jammer en dit is hartseer dat dinge so uitgedraai het.”

Nodeloos om te sê was Stakhovsky nie ingenome met die wenner van 21 Grand Slam-titels se sienswyse nie.

“Rafael, ons het saam aan toernooie deelgeneem en teen mekaar gespeel. Verduidelik asseblief vir my hoe dit enigsins regverdig is dat Oekraïense spelers nie huis toe kan gaan nie, dat Oekraïense kinders nie meer kan tennis speel nie, dat Oekraïners besig is om dood te gaan?” het Stakhovsky getwiet.

Rafael Nadal. Foto: Frederic J. Brown/AFP.

Die 36-jarige Stakhovsky het in Januarie sy tennisuittrede aangekondig en hy is deesdae terug in sy geboorteland om teen pres. Wladimir Poetin se Russiese magte te veg.

Hy het al vantevore geëis dat Russiese en Belarussiese spelers moet verklaar of hulle hul regerings se besluite steun of nie.

“Waar dit van toepassing is, vra ons dat atlete van die twee lande toegang tot enige internasionale kompetisie geweier moet word; ’n besluit wat Wimbledon reeds geneem het.”

In reaksie op die Wimbledon-aankondiging het Novak Djokovic, die wêreld se voorste manstennisspeler, ook die situasie as betreurenswaardig bestempel.

“Ek sal altyd oorlog veroordeel; ek was immers self ’n kind in ’n oorloggeteisterde gebied. Ek weet hoeveel emosionele trauma dit veroorsaak. In Serwië is ons almal maar net te bewus van wat in 1999 gebeur het, terwyl daar in die onlangse geskiedenis baie oorloë in die Balkan-omgewing was.

“As speler kan ek egter nie hierdie besluit van Wimbledon ondersteun nie; ek dink trouens dat dit malligheid is. Die spelers het immers niks met die oorlog uit te waai nie; wanneer politiek met sport inmeng, is die uiteinde nooit goed nie,” het die Serwiese ster gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

krodedil ·

10 uit 10 vir Stakhovsky.
Rafael moet Wimbledon boekot, ons gaan jou beslis nie mis nie.

Wilhelm ·

Wie is jou ‘ons’ ? Nie almal van ‘ons’ dink dis reg om russiese spelers, en oor die algemeen russiese burgers, te straf vir Putin se optrede nie.

Amelia ·

Ek stem saam met Nadal en Djokovic. Ek het baie meegevoel met Stakhovsky maar sy twiet maak nie sin nie. Die Russiese spelers is nie verantwoordelik daarvoor dat Ukrainiese spelers nie kan huistoe gaan nie.

krodedil ·

Alle Russiese sportmanne moet uit alle sportsoorte verban word.

anniekiewiet ·

Rafa is reg, voel ek. Russiese sportsterre en ander soos musici het niks met daai aaklige oorlog te doen nie. En Rusland moes na ons mening nooit weer ‘n oorlog begin het nie.
Google verder en vind uit hoekom en waarom Ukraïne se leier ook nie so onskuldig is nie. En hoekom ander lande hulle soveel wapentuig gee, maar nie lus is om te gaan help nie. Dan lyk dit of Ukraïene net die middelman in ‘n baie groter geveg is. Hoekom word Navo en Amerika en ander lande se sportsterre nie ook belet nie?
Ek is nie aan Rusland se kant nie, ek vra maar net.

De Villiers ·

Klink vir my soos die krokodiltrane wat ons gereeld gesien het gedurende C19…

Janine ·

Dis dieselfde as toe ons op skool was! Een onopgevoede kind gedra hom/haar nie, en hele klas word gestraf! Dis tog nie logika nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.