Red Bull laat die vonkelwynproppe klap

Max Verstappen en Sergio Perez het eerste en tweede in Azerbeidjan klaargemaak. Foto: Twitter.

Max Verstappen en Sergio Perez het die spoedkrane in die strate van Bakoe oopgedraai om ’n eerste en tweede plek vir Red Bull in die Azerbeidjan Grand Prix te verseker.

Dit was Verstappen se 24ste oorwinning agter die stuur vir Red Bull.

Maar waar die vonkelwynproppe besig is om in die Red Bull-hoek te klap, moet daar ’n minder feestelike atmosfeer by Ferrari heers.

Charles Leclerc en Carlos Sainz kon weer eens nie ’n wedren voltooi nie en die frustrasievlakke moet nou veral by Leclerc die hoogte inskiet.

Die Monte Carlo-boorling het vir die soveelste keer vanjaar heel voor weggespring, net om in afgryse toe te kyk hoe sy renmotor net skielik stoom verloor.

Red Bull geniet nou ’n buffer van 80 punte op die vervaardigerspunteleer, terwyl Verstappen ook met groter gemak die septer op die jaerspunteleer swaai.

Sy tweestryd met Perez sorg ook vir ’n bietjie opwinding: Die Mexikaanse renjaer het vroeg vir Leclerc verbygevat om die voortou te neem, maar hy kon nie net by die spoed van sy Red Bull-spanmaat se motor kers vashou nie.

George Russell en Lewis Hamilton het onderskeidelik derde en vierde vir Mercedes geëindig. Die ervare Hamilton het egter oor rugpyn gedurende die wedren gekla en hy het later gesukkel om uit sy vuurwa te klim.

Die volgende wedren spring komende Sondag (19 Junie) in Montreal weg.

Uitslae:

  1. Max Verstappen (Red Bull)
  2. Sergio Perez (Red Bull)
  3. George Russell (Mercedes)
  4. Lewis Hamilton (Mercedes)
  5. Pierre Gasly (AlphaTauri)
  6. Sebastian Vettel (Aston Martin)
  7. Fernando Alonso (Alpine)
  8. Daniel Ricciardo (McLaren)
  9. Lando Norris (Mclaren)
  10. Esteban Ocon (Alpine).

Vervaardigerspunteleer:

  1. Red Bull: 279 punte
  2. Ferrari: 199 punte
  3. Mercedes: 161 punte
  4. McLaren: 65 punte
  5. Alpine: 47 punte.

Jaerspunteleer:

  1. Max Verstappen: 150 punte
  2. Sergio Perez: 129 punte
  3. Charles Leclerc: 116 punte
  4. George Russell: 99 punte
  5. Carlos Sainz: 83 punte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.