Renmotors gaan weer vuur spoeg in Bahrein

Christian Horner en Max Verstappen is ’n gedugte kombinasie Foto: Remko de Waal/ ANP via AFP.

Die nuwe F1-seisoen is hier met Max Verstappen, Lewis Hamilton en Charles Leclerc wat waarskynlik weer eens die meeste oor geskryf sal word.

Die momentum is ongetwyfeld aan Verstappen se kant nadat hy verlede jaar 15 keer eerste oor die wenstreep gejaag het. Terselfdertyd het sy Red Bull-renmotor ook weer tydens die toetslopies vuur gespoeg.

Tog kon hy nog nooit ʼn wedren in Bahrein wen nie.

Verlede jaar moes hy die aftog blaas nadat sy enjin skielik krag verloor het, terwyl hy in 2021 en in 2020 in die tweede plek klaargemaak het.

Maar volgens Christian Horner staan die jong Nederlander ʼn definitiewe kans om sy derde wêreldkampioenskapstitel op ʼn streep te wen.

“Max is beslis op dreef en ek dink dat sy selfvertroue op hierdie stadium van sy loopbaan baie hoog is. Hy het nou al goeie ervaring opgedoen en hy lewer gereeld uitstekende vertonings. Hy is ook lekker fiks en kan nie wag om weer agter die stuur in ʼn amptelike wedren te wees nie,” het die Red Bull-spanbaas gesê.

Lewis Hamilton kan nog wedrenne wen.  Foto: Lars Baron/AFP.

Dan jag Lewis Hamilton steeds sy agtste wêreldtitel; ’n prestasie wat hom nou al vir ’n paar seisoene ontwyk.

Die Mercedes-renjaer het vanjaar sy 38ste verjaardag gevier en sy ouderdom kan dalk teen hom begin tel.

Sky Sports se Martin Brundle meen dat Hamilton se titeldrome in 2021 ’n reuseknou gekry het toe Verstappen op dramatiese wyse die beslissende wedren in Abu Dhabi gewen het.

“Abu Dhabi was ’n groot terugslag vir hom en ek dink sy uurglas om nog ’n titel in te oes is besig om leeg te loop,” het die oudrenjaer gesê.

Verstappen het egter vroeër erken dat Hamilton steeds ’n krag is waarmee daar rekening gehou moet word.

“Lewis is een van die beste renjaers ooit en as hy oor ʼn sterker motor beskik, kan hy beslis weer in die binnebaan van die titelresies wees. Maar dieselfde kan ook van die ander gesê word: As hul motor met die beste kan saamgesels, het hulle oorgenoeg talent om gereeld op die podium te staan.”

Dit lyk of Mercedes intussen die bonsprobleme (porpoising) van verlede seisoen uitgesorteer het, maar hulle beskik nog nie oor dieselfde woema as Red Bull of Ferrari nie.

Ferrari se Charles Leclerc. Foto: Con Chronis/AFP.

Op sy beurt sal Charles Leclerc meer bestendig wil wees. Die Monaco-boorling het verlede jaar in die eerste paar wedrenne van die seisoen amok gemaak, maar hy het daarna gereeld tweede viool teen die vlieënde Verstappen gespeel.

Die geruite vlag is verlede jaar vir hom in Bahrein geswaai, terwyl spanmaat Carlos Sainz tweede oor die wenstreep gejaag het.

ʼn Soortgelyke vertoning sal beslis Ferrari-ondersteuners breed laat glimlag.

“Verlede jaar was inderdaad ʼn tree in die regte rigting, maar ons sal meer bestendig moet wees. Ons sal meer gereeld wedrenne moet wen,” het ʼn veglustige Leclerc gesê.

Die Bahrein-wedren begin Sondag om 17:00 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Groen Ghoen ·

Enige wenner behalwe Mercedes Benz asseblief… selfs ou meneer Biden op sy baaisiekel, hy moet net nie afval nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.