‘Roger, dit is ʼn eer om jou te ken’

Roger Federer en Novak Djokovic in aksie vir Europa se Laverbeker-span. Foto: Matthew Stockman/Getty Images/AFP.

“Volgende week se Laverbeker-wedstryde in Londen sal my laaste ATP-toernooi wees,” het Roger Federer die afgelope Donderdag in sy uittrede-boodskap gesê.

Die Switserse tennislegende sal vir oulaas sy raket op die groot verhoog saam met sterre soos Rafael Nadal, Stefanos Tsitsipas en Novak Djokovic swaai.

En die Serwiër het juis aan sy groot teenstander, en nou spanmaat, hulde gebring.

“Roger, dit is moelik om alles wat ons saam ervaar het mooi te verwoord; daar is immers meer as ʼn dekade se ongelooflike tweestryde waaraan ʼn mens kan terugdink. Jou loopbaan was ʼn toonbeeld van uitnemendheid en wat dit beteken om met integriteit en waardigheid te speel,” het Djokovic, ʼn wenner van 21 Grand Slam-titels, op sosiale media gedeel.

“Dit is ʼn eer om jou te ken en ek weet dat hierdie nuwe hoofstuk nog merkwaardige dinge vir jou inhou. Jou vrou, kinders en al die Roger-ondersteuners het nog baie om na uit te sien.”

Djokovic het juis vantevore gesê dat hy opgewonde oor die komende toernooi in Londen is.

Foto: Clive Brunskill/Getty Images via AFP.

“Die Laverbeker is die enigste toernooi waar jy saam met al jou grootste teenstanders in een span kan speel. Dit is ’n opwindende konsep; nie net vir ons spelers nie, maar ook vir baie tennisliefhebbers.”

Tog kan die tenniswêreld nie wag om weer vir Federer en Nadal vir oulaas saam in aksie te sen nie.

Fedal, soos wat hulle bekendstaan, het in 2017 kragte saamgesnoer toe die Europeërs met die louere in die 2017-weergawe van die tennisskouspel weggestap het.

“Roger speel ’n baie belangrike rol in my tennisloopbaan; hy is een van my grootste teenstanders asook ’n wonderlike vriend. Om in dié stadium van ons loopbane weer saam dubbels te speel, sal ’n ongelooflike ervaring vir ons al twee wees,” het Nadal destyds gesê.

Die Laverbeker word van 23 tot 25 September beslis.

Europa-span: Novak Djokovic, Rafael Nadal, Stefanos Tsitsipas, Casper Ruud, Roger Federer, Andy Murray, Matteo Berrettini, Björn Borg (kaptein) en Thomas Enqvist (onderkaptein).

Wêreldspan: Felix Auger-Aliassime, Taylor Fritz, Diego Schwartzman, Alex de Minaur, Frances Tiafoe, Jack Sock, Tommy Paul, John McEnroe (kaptein) en Patrick McEnroe (onderkaptein).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.