Roger, Rafa en Novak deel van Madrid-ope

Roger Federer. Foto: Kenzo Tribouillard/AFP.

As dit pap reën, moet jy skep en wanneer Roger Federer, Rafael Nadal en Novak Djokovic weer almal saam by een toernooi in aksie is, moet jy beslis kyk.

Federer sal sy eerste verskyning op ’n kleibaan in amper twee jaar maak wanneer die Madrid-ope volgende maand begin.

Die 39-jarige Switserse tennislegende het Maartmaand sy terugkeer tot tennis by die Katar-ope gemaak nadat knieoperasies hom vir lank langs die baan gehou het.

Tog is kleibane nie sy gunsteling nie.

Hy kon laas in 2015 ’n titel op klei inoes, terwyl hy nog net een keer die Franse Ope-titel op Roland-Garros kon wen.

Daarteenoor sal Nadal oorgehaal wees om verdere hoofstukke van sy kleibaan-suksesverhaal te skryf.

Die Spanjaard is die amptelike koning van klei en hy het verlede jaar vir Djokovic in die eindstryd op Roland-Garros verrinneweer om sy 13de Franse Ope-titel te wen.

Kommentators het kort ná die wedstryd sy vertoning as die beste ooit op ’n kleibaan bestempel; ’n stelling waarmee Rusland se Andrey Rublev saamgestem het.

“Elke speler – selfs iemand soos Roger Federer of Novak Djokovic – het dae waar hulle emosioneel nie so sterk is nie en ’n wedstryd verloor. Rafa is die enigste sportman waarvan ek weet wat altyd ’n manier vind om te wen; selfs al het hy ’n swak dag,” het Rublev gesê.

Die Madrid-ope begin op 2 Mei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.