Rosberg besing Verstappen se lof

Max Verstappen het vanjaar 15 wedrenne gewen. Foto: Twitter.

ʼn Rekord van 15 wedrenseges en 454 punte op die jaerspunteleer; ja-nee, Max Verstappen het vanjaar omtrent stof in die oë van sy teenstanders geskop.

En volgens Nico Rosberg sorg die Red Bull-ster se indrukwekkende getuigskrif dat hy reeds onder die beste renjaers nóg tel.

“Hy is doodeenvoudig ongelooflik agter die stuur van sy renmotor. Ek dink dit is maklik om te sê dat hy op koers is om een van die grootste renjaers nóg te word. Goeiste, as ʼn mens na sy statistieke kyk, skuur hy eintlik nou al skouers met die bestes,” het die voormalige wêreldkampioen in ʼn onderhoud met Sky Sports gesê.

Die geruite vlag is reeds 35 keer in Verstappen se loopbaan vir hom geswaai en hy is sesde op die lys vir die meeste seges nóg.

Om dié statistieke vinnig in perspektief te plaas – hy spog met meer oorwinnings as F1-legendes soos Niki Lauda, sir Jackie Stewart en Nigel Mansell, terwyl Ayrton Senna en Alain Prost se rekords beslis in sy visier is.

Rosberg meen dat die 25-jarige Nederlander ook met sy veggees en veerkragtigheid beïndruk het – veral toe Ferrari in die aanloop tot die seisoen die spoedsepter geswaai het.

“Die Ferrari’s was verreweg die vinnigste motors aan die begin van die seisoen, maar Max kon steeds daarin slaag om wedrennne te wen. Hy het 146 punte meer as enigiemand anders op die jaerspunteleer en dit is beslis een van die beste individuele pogings wat ons waarskynlik ooit sal sien.”

Meeste F1-loopbaanseges:

  1. Lewis Hamilton 103
  2. Michael Schumacher 91
  3. Sebastian Vettel 53
  4. Alain Prost 51
  5. Ayrton Senna 41
  6. Max Verstappen 35
  7. Fernando Alonso 32
  8. Nigel Mansell 31
  9. Jackie Stewart 27
  10. Jim Clark en Niki Lauda 25

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Barend ·

Hy moet nou net aan sy eie reg werk en ‘n goeie leier ook word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.