Rublev: Nadal is die beste sportman ooit

Rafael Nadal. Foto: (AP Photo/Andy Brownbill)

Vergeet maar van net die beste tennisspeler van alle tye, volgens Rusland se Andrey Rublev is Rafael Nadal die beste sportman ooit.

Die 34-jarige Spanjaard het vroeër vandeesmaand sy 13de Franse Ope-titel op Roland-Garros ingepalm toe hy Novak Djokovic van die baan gevee het om met 6-0, 6-2 en 7-5  te wen. Kommentators het kort ná die wedstryd sy vertoning as die beste ooit op ’n kleibaan bestempel.

“Myns insiens is hy die beste sportman ooit. Dit gaan my verstand te bowe hoe hy aanhoudend op só ’n vlak presteer,” het Rublev van Nadal gesê.

Die 23-jarige Rus is een van wêreldtennis se opwindendste spelers en hy vertel dat die Spaanse speler hom tot hoër hoogtes aanspoor.

“Elke speler – selfs iemand soos Roger Federer of Novak Djokovic – het dae waar hulle emosioneel nie so sterk is nie en ’n wedstryd verloor. Rafa is die enigste sportman waarvan ek weet wat altyd ’n manier vind om te wen; selfs al het hy ’n swak dag.”

Andrey Rublev. Foto: Twitter.

“Wanneer hy wel verloor, is dit gewoonlik eers ná vyf stelle in ’n Grand Slam-wedstryd teen skitterende spelers. Ek weet van geen ander sportman wat psigies so sterk is nie.”

Roger Federer – die speler wie se Grand Slam-rekord Nadal nou geëwenaar het – het emmersvol respek vir die Spanjaard.

“Dit is vir my ’n enorme voorreg om Rafa met sy 20ste Grand Slam geluk te wens. Wat sy prestasie veral ongelooflik maak, is dat hy nou al 13 keer op Roland-Garros gewen het – een van die beste prestasies in sport,” het die Switserse speler op sosiale media kort ná Nadal se Franse Ope-sege geskryf.

“Hy is ongetwyfeld my grootste teenstander en ek glo ons het mekaar deur die jare gedruk om beter spelers te word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Natasha ·

Nie net is Rafa ‘n briljante atleet nie, hy het ook ‘n baie goeie sin vir humor en ‘n groot hart. Hy is ‘n rol model vir ons almal

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.