Sainz skitter in Singapoer se strate

Carlos Sainz vier sy spesiale oorwinning. (FotoL Twitter/F1)

Christian Horner het gewaarsku dat dit een of ander tyd moet gebeur: Red Bull en Max Verstappen se droomwenlopie het Sondag in Singapoer tot ʼn einde gekom.

Verstappen het vir die eerste keer in 11 wedrenne nie op die boonste trappie van die podium gestaan nie en hy moes met ʼn uiteindelike vyfde plek tevrede wees.

In sy plek het Carlos Sainz feesgevier en die Ferrari-renjaer is vir sy bestuursvernuf en slim taktiese ren geloof.

Die Spanjaard moes in die pylvak van die wedren bontstaan om die aanslag van ʼn vlieënde George Russell af te weer en hy het besluit om vir Lando Norris ʼn DRS-hupstoot te gee sodat hy ’n buffer teen die Mercedes kan wees.

DRS (oftewel die Drag Reduction System) is ʼn F1-meganisme waar ʼn renmotor se agterste drukvlerk op sekere plekke tydens ʼn ronde oopgemaak kan word om die windweerstand te verminder. Dit word ingestel sodat die motor ʼn hoër topspoed kan bereik; sodoende kan renjaers mekaar ook makliker in dié spesiale stroke verbysteek.

Of dan hul plek verdedig.

“Dit was my eie idee. Ek het besef wat my spoed in vergelyking met Lando sʼn was en ek weet ook dat verbysteek moeilik op die baan is. Daarom het ek ʼn bietjie stadiger gery om vir hom DRS te gee om die Mercedes-renjaers in toom te hou. Dit was ʼn waagstuk, maar ek is bly dat dinge uiteindelik goed uitgewerk het,” het Sainz gesê.

Dit is die eerste keer vanjaar dat die geruite vlag nie vir Verstappen of Sergio Perez in hul Red Bull-vuurwaens geswaai word nie.

“Ek dink ons sal beter doen in Japan. Ons moet probeer om ons sukkelvertoning hierdie naweek te verstaan, maar die Suzuka-renbaan is ʼn perd van ʼn ander kleur,” het Verstappen gesê.

Uitslae:

  1. Carlos Sainz (Ferrari)
  2. Lando Norris (McLaren)
  3. Lewis Hamilton (Mercedes)
  4. Charles Leclerc (Ferrari)
  5. Max Verstappen (Red Bull)
  6. Pierre Gasly (Alpine)
  7. Oscar Piastri (McLaren)
  8. Sergio Perez (Red Bull)
  9. Liam Lawson (AlphaTauri)
  10. Kevin Magnussen (Haas)

Jaerspunteleer:

  1. Max Verstappen: 374 punte
  2. Sergio Perez: 223 punte
  3. Lewis Hamilton: 180 punte
  4. Fernando Alonso: 170 punte
  5. Carlos Sainz: 142 punte
  6. Charles Leclerc: 123 punte
  7. George Russell: 109 punte
  8. Lando Norris: 97 punte
  9. Lance Stroll: 47 punte
  10. Pierre Gasly: 45 punte

Vervaardigerspunteleer:

  1. Red Bull: 597 punte
  2. Mercedes: 289 punte
  3. Ferrari: 265 punte
  4. Aston Martin: 217 punte
  5. McLaren: 139 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.