Serena (40) terug op Wimbledon

Serena Williams van die VSA (13 Julie 2019) (Foto: Xinhua/Han Yan/IANS)

Die 40-jarige sal haar tennisterugkeer op Wimbledon maak nadat organiseerders bevestig het dat sy deel van die aksie op die komende grasbaanskouspel sal wees.

Williams se laaste professionele wedstryd was in Junie 2021 toe sy die baan, nogal op die einste Wimbledon, in trane verlaat het.

Die voormalige wêreldnommereen-speler was toe in aksie teen Aliaksandra Sasnovich in haar openingswedstryd van dié gewilde toernooi in Engeland. Sy het met 3-1 in die eerste stel voorgeloop voordat sy gegly en haar regterbeen beseer het.

Nadat sy mediese behandeling ontvang het, het sy nog vir ’n pot of twee voortgeveg, maar met die telling op 3-elk die handdoek ingegooi. Dit was die eerste keer in 20 Wimbledon-toernooie dat sy nie verder as die eerste ronde gevorder het nie.

Sedertdien het sy verskeie ander toernooie misgeloop. Sy het net voor vanjaar se Australiese Ope in Melbourne laat weet dat sy nog nie “fisiek gereed is” om te speel nie.

Maar in ’n onlangse inskrywing op sosiale media het sy ’n foto van haar tekkies op ’n grasbaan gedeel en haar deelname bevestig.

Williams het sewe van haar 23 Grand Slam-titels op Wimbledon gewen, maar sy het haar laaste eindstryd in dié ikoniese grasbaantoernooi sleg teen Simona Halep verloor.

Terselfdertyd kon sy laas in 2017 ’n Grand Slam-titel wen en die uurglas is beslis besig om leeg te loop – veral as sy nog drome koester om Margaret Court se rekord van 24 Grand Slam-titels te verbeter.

Sy sal eers dubbelspelwedstryde saam met Tunisië se Ons Jabeur in ’n voorbereidingstoernooi in Eastbourne speel.

Die eerste Wimbledon-wedstryde word op 27 Junie beslis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kobus ·

Wat ‘n klug. Sy is nou 1208e in die wêreld. Wonder maar net

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.