Serena verloor, hulde stroom in

Serena Williams waai vir die toeskouers nadat sy in New York uitgeskakel is. Foto: Matthew Stockman/Getty Images/AFP

Serena Williams se Amerikaanse Ope-veldtog het toe nie ’n sprokiesverhaal-einde opgelewer nie toe sy met 7-6, 6-7 en 6-1 teen Australië se Ajla Tomljanović vasgeval het.

Die Amerikaner, wat binnekort haar 41ste verjaardag vier, het vroeër aangedui dat sy stelselmatig gereedmaak om haar raket vir oulaas weg te bêre.

Maar oorwinnings teen Danka Kovinic en Anett Kontaveitt in New York het haar finale afskeidspartytjie ’n bietjie uitgestel.

Was dit Williams se laaste tenniswedstryd? Sy het weer eens die deur ’n skrefie oopgelaat vir nóg ’n wedstryd by nóg ’n toernooi.

“Ek dink tans nie veel daaroor nie. Maar ek was nog altyd baie lief vir Australië,” het sy ná die afloop van haar kragmeting teen Tomljanović gesê.

Williams het sewe van haar 23 Grand Slam-titels in Australië gewen.

“Dit verg harde werk om tot hier te kom. Dit is duidelik dat ek nog ’n bekwame speler is, maar ek is gereed om ’n ma te wees; om ’n ander weergawe van Serena-wees te verken.”

Terwyl sy gesê het sy hoop om in een of ander hoedanigheid by tennis betrokke te bly, sien sy uit om meer tyd saam met haar dogter (Olympia) deur te bring.

Hoewel daar nog nie ’n definitiewe antwoord oor haar amptelike uittrede is nie, moes die Tomljanović-kragmeting haar laaste Grand Slam-wedstryd in New York gewees het.

En die huldeblyke het ingestroom.

“Veels geluk met ’n ongelooflike loopbaan. Ek is trots op jou, my vriendin, en ek kan nie wag om te sien hoe jy voortgaan om lewens met jou talente te verander nie,” het Michelle Obama, die voormalige Amerikaanse presidentsvrou, getwiet.

Tiger Woods, LeBron James, Simone Biles, Sachin Tendulkar en Oprah Winfrey het ook hulde aan Williams se merkwaardige loopbaan gebring.

“Haar ongelooflike loopbaan het sy stempel op tennisgeskiedenis afgedruk. En tog kan haar grootste bydrae nog kom. Dankie Serena; jou reis duur voort,” het die tennislegende Billy Jean King gesê.

Uitslae:

Daniil Medvedev klop Wu Yibing met 6-4, 6-2 en 6-2

Nick Kyrgios klop JJ Wolf met 6-4, 6-2 en 6-3

Pablo Carreno Busta klop Alex de Minaur met 6-1, 6-1, 3-6 en 7-6

Casper Ruud klop Tommy Paul met 7-6, 6-7, 7-6, 5-7 en 6-0

Matteo Berrettini klop Andy Murray met 6-4, 6-4, 6-7 en 6-3

Ajla Tomljanović klop Serena Williams met 7-6, 6-7 en 6-1

Coco Gauff klop Madison Keys met 6-2 en 6-3

Ons Jabeur klop Shelby Rogers met 4-6, 6-4 en 6-3

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.