Slegs Rafa kan Novak stuit

Rafael Nadal van Spanje hou die trofee vas kort nadat hy die Amerikaanse Ope-tenniskampioenskap gewen het (8 September 2019). (Foto: Charles Krupa/AP)

Daar is min dinge wat vanjaar tussen Novak Djokovic en sy droom staan om elke liewe Grand Slam-toernooi te wen.

Die 34-jarige Serwiër het reeds met die louere by die Australiese Ope, Franse Ope én Wimbledon weggestap. Benewens ’n Olimpiese goue medalje is die komende Amerikaanse Ope ook reg in sy visier.

En volgens die bekende tennisafrigter Darren Cahill is Rafael Nadal die enigste speler wat in die VSA sy opmars kan stuit.

Maar dit sal beslis nie ’n maklike taak wees nie.

Djokovic het immers die “koning van klei” op sy geliefde Roland Garros onttroon toe hy Nadal in die halfeindstryd van die Franse Ope met 3-6, 6-3, 7-6 en 6-2 geklop het.

Hoewel die 35-jarige Spanjaard ná afloop van die wedstryd gesê dat die “lewe voortgaan” en dat “dit net nog ’n wedstryd op ’n tennisbaan” is, het hy ’n rukkie later aangekondig dat hy nie deel van die aksie op Wimbledon en by die Olimpiese Spele sal wees nie.

Nadal vier nóg ’n Amerikaanse Ope-oorwinning. (Foto: Seth Wenig, AP)

Hy het egter verlede maand op sosiale media gesê dat hy by die Amerikaanse Ope in New York sal afslaan. En dit is dáár waar Cahill meen dat hy die bordjies teen Djokovic sal wil verhang.

“Ek dink Rafael Nadal sal alles in sy vermoë doen om te verhoed dat Djokovic die Amerikaanse Ope wen.

“Rafa hou daarvan om in New York te speel; hy geniet die weersomstandighede, asook die manier waarop die bal op die harde bane bons. Hy het trouens al baie sukses in die VSA gesmaak.”

Die Spanjaard het in 2010, 2013, 2017 en 2019 die Amerikaanse Ope-trofee omhoog gehou, maar enige plek waar Nadal wedstryde wen, kan Djokovic sekerlik ook.

Die wêreld se voorste speler het reeds drie keer die Amerikaanse Ope-titel ingeoes en hy word nie sommer ontspoor nie.

Novak Djokovic van Serwië. (Foto: AP Photo/Mark Schiefelbein)

Die afgelope sukses op Wimbledon was sy 20ste Grand Slam-titel en sy afrigter, Goran Ivanisevic, het ander spelers gewaarsku dat die Serwiër nog baie ambisie-petrol in die tenk oorhet.

“Novak is soos die aksiehelde in die flieks. Maak nie saak hoeveel keer hy geskiet word nie, hy staan net elke keer op. Daar is elke dag iets nuuts; elke dag iets beters. Hy gaan nie ophou nie. Hy wil nie ophou nie,” het die Kroaat gesê.

In die afgelope tien jaar het Djokovic ook boonop meer groot titels (19) as Roger Federer en Nadal (15) sáám ingeoes.

Duitsland se Alexander Zverev het Ivanisevic se woorde beaam – die Djokovic-sneltrein gaan nie binnekort tot stilstand gebring word nie.

“Hy is steeds honger vir sukses en vasbeslote om nog baie rekords agter sy naam te skryf. Ek dink nie hy gaan ophou totdat hy almal verbeter het nie,” het die jong Duitser gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.